Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 18:19-26 Die Boodskap (DB)

19. Luister nou na goeie raad. Mag die Here daarmee saamstem. Jy moet nog steeds namens die volk met die Here gaan praat. Gaan aan om met hulle sake na God toe te gaan en vir Hom te vra wat reg is.

20. Wys die volk op die wette en die voorskrifte. Gaan aan om vir hulle te wys hoe hulle moet lewe en wat hulle moet doen.

21. “Vir die beslissing oor hulle verskille moet jy mans uit die volk aanstel wat as regters kan optree. Stel een man aan vir elke 1 000 mense of selfs vir elke 100 of 50 of tien mense. Hulle moet goed genoeg wees om die werk te kan doen. Hulle moet respek hê vir God en vir die waarheid. Iemand moet hulle nie met geld kan omkoop nie.

22. Stel hulle as voltydse regters oor die volk aan. Hulle kan die groter sake dan na jou verwys. Die kleiner sake kan hulle sommer self verhoor. So kan julle saam die vrag dra. Dit sal sake vir jou makliker maak.

23. As dit volgens God se wil is, kan jy die sake van nou af so hanteer. Dit sal jou werk maklik maak. Die volk sal terselfdertyd dan ook meer tevrede gestel kan word.”

24. Moses het sy skoonpa se raad aanvaar. Hy het die plan geïmplementeer.

25. Hy het mans uit die hele Israel aangestel wat reg was om die werk te doen. Hy het een van hulle vir elke 1 000, of 100, of 50 of tien mense aangewys.

26. Hulle was deurentyd beskikbaar vir die volk om na hulle sake te luister. Hulle het die moeiliker sake na Moses verwys. Die sake wat makliker was, het hulle self verhoor.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 18