Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 16:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Op die vyftiende dag van die tweede maand nadat hulle uit Egipte weg is, het die Israeliete van Elim af in die Sinwoestyn aangekom. Dit is tussen Elim en Sinai.

2. Daar het hulle by Moses en Aäron oor die min kos kom kla:

3. “Die Here kon ons maar liewer in Egipte laat doodgaan het. Toe ons daar gebly het, was daar ten minste oorgenoeg kos om te eet. Julle het ons hiernatoe gebring om van die honger dood te gaan.”

4. Die Here sê toe vir Moses: “Ek gaan vir julle kos van bo af gee. Die volk moet dit elke dag bymekaarmaak. Dit sal vir My wys of hulle bereid is om te leef soos Ek wil hê.

5. Hulle moet gereedmaak om elke keer op die sesde dag twee keer meer huis toe te bring as wat hulle normaalweg elke dag bymekaarmaak.”

6-7. “Hoekom kom staan julle by ons en kla?” het Moses en Aäron toe vir die Israeliete gevra. “Julle sal teen môre besef dat dit die Here self is wat julle uit Egipte laat wegtrek het. Hy sal vir julle wys hoe groot Hy is. Hy het gehoor hoe julle oor Hom kla.”

8. Moses het vir hulle gesê: “Dit is eintlik nie oor ons dat julle kla nie. Julle kla oor die Here. Wanneer die Here vir julle vanaand vleis gee om te eet en môreoggend brood dat julle versadig kan word, moet julle besef dat die Here julle hoor kla het en dat Hy dit beskou as ’n aanklag teen Hom.”

9. Moses het vir Aäron gesê om almal bymekaar te maak om voor die Here te kom. Die Here het gehoor hoe hulle oor Hom kla.

10. Terwyl Aäron nog met hulle praat, het hulle in die rigting van die woestyn gekyk. Daar het hulle die Here se grootheid gesien. Dit het gelyk soos ’n helder lig wat binne-in ’n wolk skyn.

11. Die Here het weer vir Moses gesê:

12. “Ek het die Israeliete se gekla gehoor. Sê tog vir hulle: ‘Teen vanaand se kant sal julle vleis hê om te eet. Julle sal julle môreoggend versadig eet aan brood. Julle sal dan besef dat Ek, die Here, julle God is wat self vir julle sorg.’”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 16