Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 10:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan stel weer jou eis vir die farao. Ek het hom en sy leiers hardkoppig gemaak sodat Ek rede kan hê om al hierdie dinge met hulle te laat gebeur.

2. Julle kan aan julle nageslag gaan vertel hoe Ek met al hierdie dinge wat Ek gedoen het, die Egiptenaars belaglik gemaak het. Ek het dit gedoen om vir julle te wys hoe sterk Ek is en om julle almal te oortuig dat Ek werklik die Here is.”

3. Moses en Aäron is toe na die farao toe. “So sê die Here, die God van die Hebreërs,” sê hulle vir hom. “Hoe lank gaan jy nog bly weier om voor My te buig? Jy moet dadelik my volk laat gaan dat hulle My kan gaan aanbid!

4. As jy aanhou weier om my volk te laat gaan, bring Ek sommer môre nog ’n ramp van sprinkane in jou land.

5. Daar sal so baie sprinkane wees dat jy nie eens die grond onder hulle sal kan sien nie. Hulle sal elke krieseltjie groenigheid afvreet wat daar na die haelstorm oorgebly het. Selfs die bome, wat intussen weer begin uitloop het, sal hulle kaalstroop.

6. Hulle sal oral in jou paleis en in die huise van julle leiers en oor die hele Egipte kom. So ver as wat mense kan terugdink, sal hulle nie kan onthou dat so iets al ooit gebeur het nie.”Moses het toe sy rug vir die farao gedraai en is daar weg sonder om hom te groet.

7. Die mense wat vir die farao raad gee, het toe vir hom gevra: “Hoe lank moet ons nog met hierdie probleem sit? Laat tog die mansmense gaan dat hulle tot die Here hulle God kan gaan bid. U kan mos sien Egipte is besig om tot niet te gaan!”

8. Die farao het toe vir Moses en Aäron laat roep. Hy het vir hulle gesê: “Nou goed dan, gaan tog en loop bid tot die Here julle God. Maar sê my: Presies wie almal wil julle hê moet saamgaan?”

9. “Ons almal,” sê Moses vir hom, “ons wil almal gaan met ons jongmense en ons oumense, ons seuns en ons dogters. Ons wil ook ons kleinvee en ons beeste saamvat. Ons wil almal saam vir die Here ’n fees gaan hou.”

10. Hy sê toe vir hulle: “Die Here sal aan julle kant moet wees en julle help voor ek die dag julle almal en al julle afhanklikes sommerso sal laat gaan. Dit is duidelik dat julle ’n skelm plan in die mou voer.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 10