Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 9:18-25 Die Boodskap (DB)

18. “Ek het toe weer voor die Here neergebuig, soos die eerste keer toe ek 40 dae en nagte lank met Hom geworstel het. Soos die vorige keer het ek ook niks geëet en gedrink nie. Ek het met Hom geworstel omdat julle die Here diep teleurgestel en Hom kwaad gemaak het.

19. Ek was ook vir die Here se woede bang. In sy verskriklike woede wou Hy julle verwoes, maar gelukkig het Hy weer na my geluister.

20. Aäron het die Here ook kwaad gemaak en Hy wou hom net uitwis. En ek het toe ook vir Aäron gebid.

21. Verder het ek daardie afskuwelike goue kalf gevat en dit in die vuur gesmyt. Toe het ek dit fyngemaal en die stof wat oorgebly het, in die berg se stroompie gegooi.

22. “Later het julle die Here ook by Tabera, Massa en Kibrot-Taäwa teleurgestel.

23. En dan was daar ook nog die voorval by Kades-Barnea met die verkenners. Die Here het gesê julle kan maar die Beloofde Land binnetrek, maar julle het geweier. Julle wou nie die Here vertrou nie; daarom het julle nie na Hom geluister nie.

24. Van die eerste dag af dat ek julle leer ken het tot vandag toe was julle nog net ongehoorsaam aan die Here.

25. “Dit is dan waarom ek 40 dae en nagte lank met die Here geworstel het. Hy wou julle vernietig.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 9