Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 32:33-39 Die Boodskap (DB)

33. Die wyn wat jy van hierdie druiwe maak, is soos dodelike gif. As jy hierdie gif drink, is jy binne sekondes dood.

34. “Toe het die Here gesê: Ek onthou alles wat hierdie mense doen.

35. En dan, op ’n dag, straf Ek hulle vir al die slegte dinge wat hulle gedoen het. Dan sal hulle hard en ver val. Hulle voete sal onder hulle uitgly. Niks sal hulle kan red nie. Die dag dat Ek hulle gaan vernietig, kom vinnig nader. Wat Ek besluit het om met hulle te doen, sal vir seker gebeur. En dit gaan een van hierdie dae gebeur. Hulle sal verwoes word.

36. “Die Here sal sy volk bymekaarmaak om voor Hom te kom staan. Dan sal Hy as die groot Regter elkeen se hofsaak hanteer. Hy sal die mense wat reg voor Hom geleef het, onskuldig verklaar. Hy sal hierdie mense wat getrou aan Hom gebly het, beskerm.

37. Maar dan sal Hy vir die ander vra wat die slegte dinge gedoen het: En waar is julle afgode nou? Waar is die nikswerd goed wat julle gehoop het julle sal beskerm?

38. Waar is die afgode voor wie julle offers van vet gebrand het en vir wie julle wyn uitgestort het? Julle het mos gedink dis hulle wat goed aan julle doen! Laat julle gode nou opstaan en julle kom help! Ek gaan julle nou straf. Hardloop nou na julle afgode toe, dat hulle julle kan help as hulle kan!

39. “Julle moet dit goed besef: Ek is die Here. Ek alleen is die Here. Daar bestaan geen ander God nie. Ek besluit wie moet bly lewe en Ek besluit wie doodgemaak moet word. Dis Ek wat jou siek maak en dis Ek wat jou gesond maak. Niks en niemand kan jou uit my hand red nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 32