Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 31:16-26 Die Boodskap (DB)

16. Toe het die Here vir Moses gesê: “Die tyd is baie naby dat jy moet sterf. Jy sal saam met jou oupas en oupagrootjies in die graf wees. Ná jou dood sal hierdie klomp mense vreemde afgode begin aanbid. Hulle sal die gode dien van die mense van die nuwe land wat Ek vir hulle gee. Hulle sal heeltemal van My vergeet. Hulle sal hulle nie meer steur aan die ooreenkoms wat Ek met hulle gesluit het nie.

17. Dan sal Ek kwaad word oor wat hulle doen. Ek sal nie meer by hulle wees nie. En Ek sal nie meer vir hulle sorg nie. Dan sal hulle vernietig word. Hulle sal so swaarkry dat hulle uiteindelik sal sê: ‘Al hierdie rampe en ellendes het oor ons gekom omdat ons afgode begin dien het.’

18. Ek sal dan nie meer aan hulle verskyn nie, want hulle het verkeerde dinge gedoen en allerhande afgode begin dien.

19. “Daarom moet jy nou die woorde van hierdie lied neerskryf wat Ek vir jou leer. Daarna moet jy dit vir die mense van Israel gaan leer. Leer die woorde vir hulle sodat hulle dit kan sing. Agterna sal hierdie lied hulle daaraan herinner dat hulle nie gedoen het wat Ek hulle beveel het nie.

20. “Ek gee vir hulle ’n land wat oorgenoeg van alles het. Ek het hulle oupagrootjies belowe dat Ek hulle na hierdie land sal bring. In hierdie land sal die Israeliete ryk word. Dit sal baie goed met hulle gaan. Hulle sal kan eet net wat hulle wil omdat hulle meer as genoeg van alles sal hê. Hulle sal vet word. Hulle sal egter ander gode begin dien. Hulle sal nie meer vir My respek hê nie. Hulle sal van My vergeet. En hulle sal ook vergeet van die ooreenkoms wat Ek met hulle gemaak het.

21. Daardie dag sal hulle moeilikheid begin. Groot rampe sal oor hulle kom. Hulle sal swaarkry. Maar dan sal hierdie lied hulle daaraan herinner dat hulle geweet het wat om te doen, maar dat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle gesê het nie. Hulle kinders mag ook nie vergeet wat Ek vir julle gesê het nie. Ek weet mos hoe mense is. Selfs nog voor hierdie mense die land gaan bewoon wat Ek vir hulle gee, sê Ek al dat hulle My sal verlaat.”

22. Toe het Moses die woorde van hierdie lied opgeteken en hy het dit vir die Israeliete geleer.

23. Die Here het daardie dag ook met Josua gepraat. Hy het vir Josua ’n opdrag gegee. Hy het gesê: “Wees sterk! Wees vol moed! Jy moet hierdie mense die land invat wat Ek belowe het om vir hulle te gee. Onthou, Ek sal by jou wees!”

24. Moses het toe alles wat hy daardie dag gesê het, in ’n boek geskryf. Hy het tot die laaste woord toe alles neergeskryf wat die Here van sy volk verwag.

25. Toe het hy die mense wat in die huis van die Here werk, die mense wat die ark dra waarin die ooreenkoms is wat die Here met sy volk gemaak het, beveel:

26. “Vat hierdie boek waarin opgeskryf is wat die Here van sy volk verwag. Sit dit langs die ark waarin die ooreenkoms is wat die Here julle God met julle gemaak het. Laat die boek julle elke dag herinner aan alles wat die Here vir die volk van Israel gesê het om te doen.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 31