Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:42-51 Die Boodskap (DB)

42. Sprinkane sal jou land aanval en hulle sal alles opvreet. Daar sal niks van die bome of die gras of jou oeste oorbly nie.

43. Die vreemdelinge wat tussen jou bly, sal sterker word as jy en hulle sal meer besittings hê as jy. Maar jy sal al swakker en swakker word.

44. Jy sal by hulle geld leen, en hulle sal niks van jou nodig hê nie. Hulle sal belangriker word as jy.

45. “As jy weier om te doen wat die Here jou God vir jou sê en jy luister nie na wat Hy jou beveel nie, sal al hierdie teëspoed oor jou kom. Moeilikheid sal jou vernietig.

46. Hierdie moeilikheid is eintlik waarskuwings vir jou en jou kinders en jou kleinkinders.

47. Jy het nie die Here met vreugde en entoesiasme gedien nie. Dis Hy wat alles vir jou gegee het wat jy het, wat goed vir jou gesorg het.

48. Daarom sal jy vir jou vyande moet werk. Die Here sal hulle teen jou stuur. Jy sal honger en dors wees en sonder klere. Jy sal niks hê wat jy nodig het nie. Jou vyande sal jou sleg behandel totdat jy uiteindelik vernietig is en daar niks van jou oorbly nie.

49. “Die Here sal ’n nasie van ver af bring om teen jou te veg. Hulle sal skielik op jou toesak soos ’n arend wat uit die lug uit op sy prooi afduik. Jy sal hierdie nasie se taal nie verstaan nie.

50. Hulle sal wrede mense wees wat jou voor die voet uitroei en vir niks of niemand jammer is nie. Hulle sal nie eens die oumense of die klein kindertjies spaar nie.

51. Hulle soldate sal so baie wees dat hulle al jou vee en al jou oeste nodig sal hê om te eet. En jy sal van honger doodgaan. As hulle met jou klaar is, sal jy niks nuwe wyn of olyfolie of kalwers of lammers oorhê nie. Hulle sal jou vernietig.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28