Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:35-43 Die Boodskap (DB)

35. Boonop sal die Here swere oor jou hele lyf laat uitbreek, van jou kop tot jou tone. Niks sal daarvoor help nie. Die sere sal by jou knieë en jou bene begin.”

36. “Jy en die koning wat oor jou heers, sal as gevangenes weggeneem word na ’n ver land as jy nie na die Here luister nie. Hy sal daarvoor sorg. Jy en jou voorouers het nie eens geweet dat daar so ’n ver land bestaan nie. En as jy ’n gevangene in daardie vreemde land is, sal jy gode van hout en klip moet aanbid.

37. Mense sal skrik as hulle van jou hoor. Hulle sal spot met jou. Die mense wat in daardie ver land bly, sal nie kan glo dat die Here dit so sleg met julle laat gaan het nie. Hulle sal vir julle lag.

38. “Jy sal elke jaar baie plant, maar min oes, want sprinkane sal die plante afvreet.

39. Jy sal wingerde plant en moeite doen om die plantjies nat te gooi, maar jy sal nie die druiwe eet of die wyn drink wat daarvan gemaak word nie. Wurms sal die druiwestokke afvreet, en hulle sal vrek.

40. Jy sal reg oor jou land olyfbome plant, maar jy sal nooit die olyfolie self kan gebruik nie, want die bome sal hulle vrugte afgooi net voor dit ryp word.

41. Jy sal seuns en dogters hê, maar hulle sal nie by jou bly nie. Jou vyande sal hulle as gevangenes wegneem om sonder betaling te gaan werk.

42. Sprinkane sal jou land aanval en hulle sal alles opvreet. Daar sal niks van die bome of die gras of jou oeste oorbly nie.

43. Die vreemdelinge wat tussen jou bly, sal sterker word as jy en hulle sal meer besittings hê as jy. Maar jy sal al swakker en swakker word.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28