Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 22:7-22 Die Boodskap (DB)

7. Nee, los die ma en laat haar vlieg as jy die kleintjies vir jou wil vat. As jy so maak, sal dit met jou goed gaan en sal jy ’n lang lewe geniet.

8. “As jy ’n nuwe huis bou met ’n plat dak, en jy beplan dat julle op die dak gaan kuier, moet jy dadelik ’n reling rondom die dak laat aansit. Anders kan iemand van die dak afval en so seerkry dat hy doodgaan. Dan is jy vir daardie mens se dood verantwoordelik.

9. “Jy mag nie ander gewasse tussen jou rye druiwe plant nie. As jy so maak, mag jy nie die druiwe of die ander gewas wat jy geplant het, self gebruik nie. Nee, jy moet dan al die vrugte vir die huis van die Here gee.

10. “Moenie ’n bees en ’n donkie saam voor ’n ploeg inspan nie omdat hulle nie gelyk trek nie. Albei gaan seerkry.

11. “Moenie klere dra wat van sowel wol as linne gemaak is nie.

12. “Werk klossies aan die hoeke van jou klere vas.”

13. “Sê nou ’n man trou met ’n vrou. Nadat hy by haar geslaap het, besluit hy dat hy nie meer lief is vir haar nie.

14. En sê nou hy beskuldig haar dan valslik daarvan dat sy voorheen by ’n ander man geslaap het. Hy sê skielik: ‘Ek het agtergekom dat hierdie vrou voorheen by ander mans geslaap het voor sy met my getrou het.’

15. “As ’n man só maak, moet die vrou se pa en ma die bewys na die leiers van hulle stad bring dat hulle dogter nog nooit voorheen by ’n ander man geslaap het nie. Hy moet die laken waarop sy en daardie man die eerste huweliksnag geslaap het, met die bloed daarop, as bewys bring dat sy regtig ’n maagd was.

16. Haar pa moet dan vir die leiers verduidelik: ‘Ek het my dogter vir hierdie man gegee sodat hy met haar kon trou.

17. Nou, ewe skielik, draai hy teen haar. Hy sê sy het by ander mans geslaap voor sy met hom getroud is. Maar kyk hier, ek het vir julle die bewys gebring dat sy nooit voorheen by enige ander man geslaap het nie.’“Dan moet hy die laken voor die leiers van sy stad oopvou.

18. Die regters moet dan hierdie man straf. Hy moet ’n goeie loesing met ’n sweep kry.

19. Hulle moet hom ook ’n boete laat betaal. Hy moet ’n kilogram silwer betaal omdat hy sy vrou valslik daarvan beskuldig het dat sy by ander mans geslaap het. Die geld wat hy betaal, moet na die vrou se pa gaan. Die vrou bly dan met haar man getroud. Hy mag nooit van haar skei nie.

20. “Maar sê nou haar man het sulke beskuldigings gemaak, en dit is waar. Sy het by ander mans geslaap voor sy getrou het.

21. In sulke gevalle moet die regters saam met die vrou na haar pa se huis toe gaan. Hulle moet by haar pa se huis se deur gaan staan. Dan moet die mans van die stad haar met klippe doodgooi. Sy het iets baie slegs gedoen deur by ander mans te slaap terwyl sy nog ongetroud was. Sulke slegte dinge moet julle nie tussen julle duld nie.

22. “As ’n man by ’n ander vrou slaap terwyl hy getroud is, moet hy en die ander man se vrou, die vrou by wie hy geslaap het, doodgemaak word. Op hierdie manier sal julle die slegte dinge tussen julle uitgeroei kry.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 22