Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 21:1-9 Die Boodskap (DB)

1. “Sê nou maar iemand word in die veld buitekant ’n stad of ’n dorp vermoor in die land wat die Here jou God vir jou gee. Niemand weet wie die moord gepleeg het nie.

2. In sulke gevalle moet julle leiers en landdroste bepaal watter stad die naaste is aan die plek waar die lyk gekry is.

3. Dan moet die leiers van daardie stad ’n jong koei kies wat nog nooit geleer is of ingespan is om te ploeg nie.

4. Hulle moet dan hierdie koei na ’n vallei neem waar daar nie geploeg of geplant word nie. Daar moet ’n stroom deur die vallei loop. Hulle moet die koei se nek daar breek.

5. Die mense wat in die huis van die Here werk, die kinders van Levi, moet by hulle wees wanneer hulle dit doen. Dis immers hulle wat die Here jou God uitgekies het om vir Hom te werk. Hulle mag mense voorspoed toebid en die Here sal hulle voorspoedig maak. Dis hierdie mense wat ook moet besluit wie reg is as twee mense mekaar hof toe vat, en wat bepaal watter straf die skuldiges moet kry.

6. “Dan moet die leiers van die stad wat die naaste is aan die plek waar die lyk gekry is, hulle hande was oor die jong koei waarvan die nek gebreek is.

7. En dan moet hulle sê: ‘Dis nie ons wat hierdie moord gepleeg het nie. Ons het ook g’n idee wie dit gedoen het nie.

8. Here, ons bid: vergewe u volk Israel, die mense vir wie U gered het. Sê tog dat u volk onskuldig is. Moenie u volk verantwoordelik hou vir die moord op hierdie onskuldige persoon nie. Moet dit nie teen ons hou nie.’ “Dan sal hulle nie skuldig wees aan die dood van daardie mens nie.

9. As jy presies so maak soos ek vir jou sê, sal jy doen wat vir die Here reg is. Dan sal jou mense onskuldig wees aan die moord op daardie persoon.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 21