Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 20:1-9 Die Boodskap (DB)

1. “Jy gaan in gevegte beland. Ander nasies gaan teen jou oorlog maak. Dan gaan jy dalk sien dat hulle baie wapens het wat beter is as joune, en dat hulle meer soldate het as jy. Moet dan nie bang wees en benoud rondhardloop nie. Die Here jou God het jou veilig tot hier gelei, daar van Egipte af. Niemand minder nie as Hy is by jou. Jy het niks om voor bang te wees nie.

2. “Voor jy gaan veg, moet die man wat in my huis werk eers voor die soldate gaan staan. Hy moet dan die soldate moed inpraat.

3. Hy moet sê: ‘Luister na my, Israeliete! Julle staan op die punt om teen ’n vyand te gaan veg. Moenie bang wees nie. Moenie paniekbevange rondkyk wie julle sal help nie. Moenie vir julle vyand skrik nie.

4. Die Here julle God gaan saam met julle! Hy is tussen julle. Hy sal vir julle teen julle vyande baklei. Hy sal vir julle die oorwinning gee.’

5. “Hierna moet die offisiere van die soldate ook met die soldate praat. Hulle moet sê: ‘Is daar iemand onder julle wat so pas ’n nuwe huis gebou het, maar nog nie eens kon intrek voor hy opgeroep is om teen die vyand te kom veg nie? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Dalk word hy in die geveg doodgemaak, en dan gaan bly vreemde mense in die huis waaraan hy so hard gewerk het.

6. Is daar iemand onder julle wat pas ’n wingerd geplant het, maar nog nie eens van die vrugte van die wingerd kon eet nie? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Miskien word hy in die oorlog doodgemaak en dan eet iemand anders die druiwe van sy nuwe wingerd.

7. Is daar iemand onder julle wat nou net verloof geraak het? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan en gaan trou. Dalk word hy in die geveg doodgemaak en dan trou iemand anders op die ou end met sy verloofde.’

8. Dan moet die offisiere ook vra: ‘Is daar iemand onder julle wat bang is? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Anders steek hy nou-nou die ander soldate aan sodat daar ’n klomp bangbroeke is wat aan die oorlog moet deelneem.’

9. As die offisiere klaar met die soldate gepraat het, moet hulle die leiers van die verskillende gevegseenhede se name aankondig.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 20