Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 19:12-21 Die Boodskap (DB)

12. In so ’n geval moet die leiers van die moordenaar se tuisdorp die moordenaar laat haal uit die stad waar hy gaan wegkruip het. Dan moet hulle hom aan die vermoorde persoon se familie gee dat hulle hom kan doodmaak.

13. Julle mag nie daardie moordenaar jammer kry nie! Julle moet die skuld wat moord veroorsaak, uit Israel uitroei. Anders sal dit nie met julle goed gaan nie.”

14. “Jy mag nie in die land wat die Here jou God jou gaan gee iemand se grond steel deur sy grensdrade te verskuif nie. Die eerste mense wat in hierdie land gebly het, het die grenslyne van die grond vasgestel. So het hulle gewys watter grond behoort aan wie.”

15. “Jy mag nooit iemand skuldig bevind aan iets wat hy verkeerd gedoen het as net een mens vertel het dat hy dit verkeerd gedoen het nie. Dit maak nie saak watter slegte daad hy ook al gedoen het nie, ten minste twee of drie mense moes dit gesien het voordat jy hom skuldig kan bevind.

16. “As iemand nie van ’n ander persoon hou nie en hy kom sê vir die hof dat daardie persoon die een of ander misdaad gepleeg het,

17. moet die persoon wat so sê en die persoon wat aangekla word, in my huis gaan staan. Hulle moet voor die mense verskyn wat in my huis werk en daar besluit wie is reg en wie nie.

18. Al twee hierdie mense moet dan sorgvuldig uitgevra word. As jy uitvind dat die persoon wat die klag gelê het, gelieg het,

19. moet jy hierdie persoon straf soos jy die ander persoon sou gestraf het as hy skuldig was aan die misdaad waarvan hy beskuldig is. Op hierdie manier moet jy jou skoonmaak van die slegte dinge wat tussen julle is.

20. Dan sal die mense wat hiervan hoor, bang word en nooit weer so ’n slegte ding doen nie.

21. Jy mag nie so iemand jammer kry nie. O nee! Die reël wat jy moet gebruik, is: iemand moet met sy eie lewe betaal as hy ’n lewe geneem het. Sy oog moet uitgehaal word as hy iemand sy oog gekos het. Hy moet sy hand verloor as hy iemand sy hand laat verloor het. En sy voet moet afgekap word as hy iemand sy voet gekos het.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 19