Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 19:1-8 Die Boodskap (DB)

1. “Binnekort sal die Here die nasies vernietig wat nou in die land bly wat Hy vir jou gaan gee. Jy gaan in hulle plek bly en hulle dorpe en hulle huise vir jouself vat.

2. Wanneer jy daar bly, moet jy drie stede in die land wat die Here vir jou gaan gee, eenkant sit waarin mense kan gaan wegkruip.

3. Verdeel die land wat die Here jou gaan gee in drie distrikte. Kies dan ’n stad in elke distrik. Sorg dat daar goeie paaie na hierdie stede toe is. As iemand moord pleeg, kan hy dan vlug en in een van hierdie stede gaan skuil.

4. “As iemand per ongeluk ’n persoon doodmaak sonder dat hy iets teen daardie mens gehad het, moet hy na hierdie stad toe vlug. Daar sal hy veilig wees.

5. Sê nou maar byvoorbeeld iemand kap hout in ’n bos. Iemand anders is saam met hom. Terwyl hy hout kap, kom sy byl se kop los en tref hierdie ander mens en maak hom dood. In sulke gevalle kan daardie mens na een van hierdie stede vlug. Daar sal hy veilig wees.

6. Die afstand na so ’n stad moenie te groot wees nie, anders maak ’n familielid wat kwaad is oor die persoon wat dood is dalk die onskuldige persoon dood voor hy homself kan beskerm. Dan word die persoon wat die dood van ’n ander veroorsaak het, maar wat self eintlik onskuldig is, doodgemaak sonder dat ’n hof hom skuldig bevind en hom die doodstraf opgelê het.

7. Dis hoekom die Here beveel dat julle drie stede moet uitwys waar sulke mense kan gaan wegkruip totdat die hof oor hulle toekoms besluit het.

8. “Later gaan die Here julle land groter maak en dan gaan julle grense uitgebrei word, presies net soos Hy julle voorvaders belowe het. Dan gaan Hy julle al die grond gee wat Hy julle belowe het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 19