Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 11:11-23 Die Boodskap (DB)

11. In die land waarheen julle op pad is, is dit heeltemal anders. Daar is net berge en vlaktes en almal is van reënwater afhanklik.

12. Die Here sal egter vir die land sorg en oor alles waghou.

13. As julle na al die voorskrifte luister wat ek julle vandag gee, as julle die Here werklik liefhet en Hom met oorgawe dien,

14. sal Hy altyd reën op die regte tyd stuur. Jy sal lente- sowel as somerreëns kry, sodat jy genoeg koring, wyn en olie sal hê.

15. Ook vir jou vee sal daar oorgenoeg gras wees. Julle sal almal eet en drink en versadig wees.

16. Moet egter nie deur ander gode verlei word nie. Moet nooit ander gode dien nie.

17. As julle dit doen, sal julle die Here teleurstel en kwaad maak. Dan sal Hy die hemel toesluit sodat daar nie meer reën sal val nie. Hy sal ook nie langer sorg dat die land sy vrug gee nie. Binne ’n kort tydjie sal julle dan die land wat die Here so graag vir julle wil gee, moet verlaat.

18. “Al die woorde wat ek julle vandag leer, moet julle in julle hart bêre en altyd daaraan dink. Maak dit aan julle arms vas en bind dit styf om julle voorkop.

19. Julle moet ook julle kinders daarvan vertel en julle moet oral daaroor praat. Of julle nou in julle huis sit of op pad is of ’n bietjie gaan lê of weer opstaan, julle moet altyd daaroor nadink.

20. Skryf dit op julle huise se deurkosyne en op die groot hekke van die stad.

21. Dan sal julle en julle kinders lank en gelukkig in die land leef wat die Here vir julle voorouers beloof het. Julle sal in daardie land woon so lank as wat daar ’n hemel en ’n aarde is.

22. “Leef getrou volgens al die voorskrifte wat ek julle vandag gee. As julle die Here liefhet en sy wil streng uitleef,

23. sal Hy al die nasies wat in die land woon waarheen julle op pad is, verdryf sodat julle daar kan gaan bly. Hy sal nasies vernietig wat baie groter en sterker as julle is.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 11