Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 1:23-36 Die Boodskap (DB)

23. Dit het vir my goed geklink en ek het twaalf mense, een uit elke stam, gekies om die land te gaan verken.

24. Hulle is die bergland in en het so ver as die vallei van Eskol gekom.

25. Hulle het van die vrugte gepluk en dit teruggebring. Hulle het ook kom vertel dat die land wat die Here vir ons gee, baie mooi is.

26. Maar julle wou nie optrek nie. Toe het julle teen die Here in opstand gekom.

27. Julle het in julle tente onder mekaar gekla en gesê: ‘Die Here haat ons. Hy het ons net uit Egipte gelei sodat die Amoriete ons kan vernietig.

28. En waar moet ons nogal in die nuwe land gaan woon? Ons is bang, want die verkenners het gesê dat die mense van die land baie meer en baie groter is as ons. En dat hulle in groot stede met baie hoë mure woon. Verder het hulle ook nog reuse daar gesien.’

29. “Ek het toe vir julle gesê om nie bang te wees nie.

30. En dat die Here voor julle uit sal gaan en vir julle sal veg soos Hy destyds in Egipte gedoen het.

31. Julle het self gesien hoe Hy julle in die woestyn gehelp het, net soos ’n man sy seun help. En hoe Hy julle tot by hierdie plek gelei het.

32. Nogtans wou julle nie die Here julle God vertrou nie.

33. Elke dag het Hy vir julle ’n plek gesoek om te kamp. Snags het Hy julle die pad met ’n groot vuur gewys en bedags met ’n wolk. Nogtans wou julle Hom nie vertrou nie.”

34. “Die Here het alles gehoor wat julle gesê het en Hy was kwaad, maar ook teleurgesteld.

35. Dit is hoekom die Here vir julle gesê het: ‘Nie een van julle ongelowige spul sal die goeie land sien wat Ek vir julle wou gee nie.

36. Slegs Kaleb die seun van Jefunne sal die land sien wat Ek vir julle gee. Hy was getrou aan My. Daarom gee Ek ’n deel van die land vir hom en sy kinders.’

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 1