Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 1:19-29 Die Boodskap (DB)

19. “Die Here het toe gesê ons moet van Horeb af weggaan. Ons het toe ons goed gevat en deur die groot en verskriklike woestyn na die land Kanaän getrek. En so het ons by Kades-Barnea aangekom.

20. Daar het ek vir julle gesê dat ons by die berge van die Amoriete in Kanaän aangekom het en dat die Here ons God dit aan ons wil gee.

21. ‘Kyk,’ het ek gesê, ‘die Here julle God het hierdie land aan julle gegee. Trek in en vat dit vir julle. Dit is wat die Here, die God van julle voorvaders, wil hê julle moet doen. En moenie bang wees nie. Trek net in.’

22. “Julle het egter na my toe gekom en gesê ons moet eers mense instuur om die land te gaan verken. Hulle moes ons van die roetes vertel en van die stede wat ons langs die pad gaan kry.

23. Dit het vir my goed geklink en ek het twaalf mense, een uit elke stam, gekies om die land te gaan verken.

24. Hulle is die bergland in en het so ver as die vallei van Eskol gekom.

25. Hulle het van die vrugte gepluk en dit teruggebring. Hulle het ook kom vertel dat die land wat die Here vir ons gee, baie mooi is.

26. Maar julle wou nie optrek nie. Toe het julle teen die Here in opstand gekom.

27. Julle het in julle tente onder mekaar gekla en gesê: ‘Die Here haat ons. Hy het ons net uit Egipte gelei sodat die Amoriete ons kan vernietig.

28. En waar moet ons nogal in die nuwe land gaan woon? Ons is bang, want die verkenners het gesê dat die mense van die land baie meer en baie groter is as ons. En dat hulle in groot stede met baie hoë mure woon. Verder het hulle ook nog reuse daar gesien.’

29. “Ek het toe vir julle gesê om nie bang te wees nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 1