Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 5:13-22 Die Boodskap (DB)

13. Daniël is dadelik laat haal. Die koning vra toe vir hom: “Is jy die Daniël wat deur my vader, Nebukadnesar, saam met die ander ballinge uit Juda hiernatoe gebring is?

14. Ek het gehoor hulle sê dat die Gees van die heilige God in jou is en dat jy baie slim is en weet hoe om probleme op die regte manier op te los.

15. Ek het my raadgewers en voorspellers laat kom om vir my te sê wat daar op die muur geskryf staan, en watter betekenis dit vir my het, maar hulle kon dit nie doen nie.

16. As jy kan lees wat daar geskryf staan en vir my kan sê wat dit beteken, sal ek vir jou ’n koninklike kleed gee om te dra en ’n goue ketting om jou nek. Jy sal saam met my oor my ryk regeer as die persoon wat derde in bevel is.”

17. Daniël het geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke vir uself of gee dit vir iemand anders. Ek sal in elk geval vir U Majesteit lees wat daar geskryf staan en wat dit beteken.

18. Die allerhoogste God het u vader, Nebukadnesar, ’n magtige en beroemde koning gemaak en aan hom groot eer gegee.

19. Hy was so magtig dat mense van alle volke, nasies en taalgroepe met vrees en bewing van hom gepraat het. Hy het doodgemaak wie hy wou en laat leef wie hy wou. Net so het hy ook besluit wie hy wou eer en wie hy wou verneder.

20. Ongelukkig het hy toe te vol van homself geword. Daarom is hy van sy troon afgesit en het hy al sy eer verloor.

21. Die menslike samelewing het hom verwerp en hy het soos ’n dier geword. Hy het saam met die wildedonkies gebly en gras geëet soos ’n bees. Hy het in die oop veld geslaap sonder enige beskerming teen die dou, totdat hy besef het dat die allerhoogste God in beheer is van al die koninkryke van die wêreld en dat Hy besluit wie regeer.

22. “Ten spyte daarvan dat u al hierdie dinge geweet het, Belsasar, het u ook te veel van uself gedink.

Lees volledige hoofstuk Daniël 5