Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 4:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Koning Nebukadnesar het die volgende boodskap aan al die volke, nasies en taalgroepe van die wêreld gestuur: “Mag daar vrede en voorspoed vir julle wees!

2. “Ek wil julle vertel van al die tekens en wonders wat die allerhoogste God my laat sien het.

3. “Hoe asemrowend is sy tekens! Hoe ongelooflik is sy wonders! God is vir ewig koning en Hy heers vir ewig!

4. “Ek, Nebukadnesar, het rustig en voorspoedig in my paleis gebly.

5. Maar toe een aand terwyl ek op my bed gelê en slaap het, het ek ’n skrikwekkende droom met vreesaanjaende visioene gehad.

6. Ek het toe beveel dat al die koninklike raadgewers na my toe moes kom om die droom vir my te kom uitlê.

7. Al die towenaars, toekomsvoorspellers, sterrevoorspellers en besweerders het toe na my toe gekom. Ek het vir hulle vertel wat ek gedroom het, maar nie een van hulle kon dit vir my verklaar nie.

8. Uiteindelik het Daniël, ook genoem Beltsasar na die naam van my god, na my toe gekom. Die Gees van die heilige God is in hom en ek het vir hom van my droom vertel.

9. Ek het vir hom gesê: Hoofraadgewer Beltsasar, ek weet dat die Gees van die heilige God in jou is en dat daar nie ’n geheim is wat jy nie kan verklaar nie. Kom ek vertel jou wat ek gedroom het, dan verklaar jy dit vir my.

10. “Ek het hierdie visioen in my slaap gehad: ek het ’n groot boom in die middel van die aarde sien staan.

11. Hierdie boom het al hoe groter en sterker geword totdat die top daarvan naderhand aan die hemel geraak het en die hele wêreld dit kon sien.

Lees volledige hoofstuk Daniël 4