Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 11:3-14 Die Boodskap (DB)

3. Dan sal ’n dapper koning op die toneel verskyn. Hy sal oor ’n groot en magtige ryk regeer en doen net wat hy wil.

4. Maar net sodra hy dink dat hy in beheer is, sal sy koninkryk uitmekaarskeur en in vier dele verdeel word. Dit sal nie sy kinders wees wat oor hierdie koninkryke regeer nie. Sy magtige ryk sal soos ’n boom ontwortel word en vir ander gegee word om op ’n ander plek te plant. Daarom sal dit nooit weer so magtig wees soos sy ryk nie.

5. “Die koning van die suide sal ’n magtige koning wees, maar een van sy generaals sal nog magtiger as hy word en selfs oor ’n nog groter koninkryk as hy regeer.

6. Later sal die koning van die noorde ’n ooreenkoms aangaan met die koning van die suide. Dan sal die koning van die noorde met die koning van die suide se dogter trou. Ongelukkig sal sy en haar pa hulle invloed oor hom verloor. Uiteindelik sal sy, haar pa, haar man en al haar volgelinge doodgemaak word.

7. Nie lank daarna nie sal een van haar familielede koning word. Hy sal hom gereedmaak vir oorlog teen die koning van die noorde en hom verslaan.

8. Hy sal hulle afgodsbeelde en hulle kosbare skatte van silwer en goud saam met hom terugvat Egipte toe. Vir ’n paar jaar sal daar weer vrede wees,

9. totdat die koning van Sirië besluit om Egipte aan te val, maar hy sal nie wen nie.

10. “Sy seuns sal hulle later vir oorlog klaarmaak en ’n groot leër bymekaarmaak. Hulle sal soos ’n vloedgolf water aangerol kom tot by een van die hoofstede van die koning van die suide.

11. Dit sal die koning van die suide so kwaad maak dat hy die koning van die noorde sal aanval en verslaan.

12. Hy sal baie trots en vol van homself wees oor sy oorwinning en oor al die vyande wat hy doodgemaak het. Maar sy oorwinning sal van korte duur wees.

13. “Die koning van die noorde sal teruggaan na sy land toe en vir hom nog ’n groter leër as die vorige keer bymekaarmaak. Later sal hy terugkom, maar hierdie keer met ’n baie sterker leër as voorheen.

14. Baie mense sal dan in opstand kom teen die koning van die suide. Selfs van jou eie volk se rebelle sal daaraan deelneem. Maar hulle gaan in die moeilikheid beland.

Lees volledige hoofstuk Daniël 11