Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 1:6-15 Die Boodskap (DB)

6. Die Here sê: “Van al die baie oortredings van Gasa is daar een spesifiek waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het al die mense wat op een plek bly, gaan vang en hulle almal aan Edom uitgelewer.

7. Ek sal die huise waarin die mense in Gasa wegkruip tot op die grond laat afbrand.

8. Ek sal almal doodmaak wat in Asdod bly. Ek sal die koning van Askelon uitwis. Ek sal op Ekron toesak. Al die Filistyne wat nog daar oor is, sal doodgaan.” Dit is wat die Here oor die Filistyne sê.

9. So sê die Here: “Van al die oortredings van Tirus is daar die een waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het ook ’n hele dorp se mense gevang en hulle almal aan Edom gaan uitlewer. Hy het die ooreenkoms wat hy met hulle gemaak het om altyd hulle vriend te wees, in die wind geslaan asof hy dit nooit gemaak het nie.

10. Ek sal ook die huise waarin die mense van Tirus wegkruip tot op die grond laat afbrand.”

11. So sê die Here: “Edom het al baie foute gemaak. Daar is een ding wat hy gedoen het waarvoor Ek hom nooit sal vergewe nie: hy het sy broersvolk Israel met wapens bly agtervolg sonder om hom te spaar. Hy het ’n vreeslike haat vir Israel wat net nie wil ophou nie.

12. Ek sal ’n vuur in Teman aan die gang sit. Dit sal die skuilplekke van Bosra verwoes.”

13. So sê die Here oor Ammon: “Van alles wat die Ammoniete verkeerd gedoen het, is die ergste een waarvoor Ek hulle net nie kan vergewe nie, dat hulle baklei het om meer grond in die hande te kry. Hulle het nie eens twee maal gedink voor hulle in Gilead vroue wat babas verwag het met swaarde oopgesny het nie.

14. Ek sal ’n vuur in Rabba aan die brand steek. Dit sal hulle huise afbrand. Die dag wanneer die vyand hulle aanval, sal daar oorlogskrete wees. Dit sal wees soos wanneer die stormwind van ’n orkaan jou tref.

15. Die koning van Rabba en sy raadgewers sal gevang en na ’n vreemde land toe weggevat word.”

Lees volledige hoofstuk Amos 1