Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 7:2-18 Die Boodskap (DB)

2. Eendag sê die koning vir Natan, die profeet: “Kyk hier, ek bly in ’n paleis wat met duur hout gebou is, maar die ark van God staan nog al die tyd in ’n tent.”

3. Daarop antwoord Natan: “Doen wat u graag wil doen. Die Here sal u help.”

4. Maar daardie nag het die Here met Natan gepraat:

5. “Gaan sê vir Dawid Ek het gesê: ‘Jy wil vir My ’n huis bou om in te bly;

6. maar Ek het nog nooit in ’n huis gebly nie, van daardie tyd af wat Ek die Israeliete laat wegtrek het uit Egipte tot nou toe. Oral waar Ek gegaan het, was my woonplek ’n tent.

7. Ek het nooit, op enige plek waar Ek by die Israeliete was, iets oor ’n huis gesê nie. Ek het nooit vir enige van die leiers wat Ek aangestel het om vir my volk Israel te sorg, gevra hoekom bou hulle nie vir My ’n huis met duur hout nie.’

8. “Daarom moet jy nou vir my getroue werker, vir Dawid, gaan sê wat Ek, die magtige Here, sê. Sê vir hom: ‘Ek self het jou agter die skape gaan haal om ’n leier vir my mense, die Israeliete, te wees.

9. Ek het jou gehelp oral waar jy gegaan het. Ek het al jou vyande voor jou weggevee en Ek het jou een van die beroemdste mense op aarde gemaak.

10. Ek het vir my volk, vir Israel, ’n plek gegee waar hulle altyd kan bly. Niemand pla hulle meer nie, en daar is nie meer slegte mense wat hulle laat swaarkry soos vroeër

11. in die tyd toe Ek regters oor my volk aangestel het nie. Jou vyande pla jou ook nie meer nie.“‘Ek, die Here, sê nou vir jou dat Ek vir jóú ’n huis gaan bou, ’n koningshuis.

12. Wanneer jy die dag doodgaan en begrawe word, sal Ek sorg dat jou eie seun koning word en Ek sal sorg dat hy lank koning bly.

13. Hý sal vir My ’n huis bou waarin Ek self sal wees. En Ek sal sorg dat iemand van sy nageslag altyd koning is.

14. Ek sal vir hom soos ’n pa wees en hy sal vir My soos ’n seun wees. As hy ’n fout maak, sal Ek hom straf soos ’n pa sy seun straf.

15. Maar Ek sal nie my rug vir hom draai soos Ek dit met Saul gedoen het en jou toe in sy plek gesit het nie.

16. Een van jou eie familie sal altyd daar wees en altyd regeer. Daar sal altyd een van jou eie mense op jou troon wees.’”

17. Natan het al hierdie woorde, alles wat die Here vir hom gesê het, presies net so vir Dawid gaan sê.

18. Koning Dawid het toe in die tent ingegaan en by die ark van die Here gaan sit. Hy het gebid: “Wie is ek, groot Here, en wie is my familie dat U my tot hier gebring het?

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 7