Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 24:3-12-13 Die Boodskap (DB)

3. Joab het die koning geantwoord: “Kyk, ek hoop die Here u God maak die manskappe ’n honderd maal meer as wat hulle alreeds is, en ek hoop dit gebeur nog in u leeftyd; maar U Majesteit, hoekom wil u ’n sensus hou?”

4. Maar die koning het Joab en die ander offisiere van die weermag doodgepraat. Hulle het toe van die paleis af gegaan om die sensus te gaan hou.

5. Hulle het oor die Jordaanrivier gegaan en by die spruit suid van die dorp Aroër begin tel. Daarna is hulle na Gad en Jaeser toe.

6. Hulle het noord deur Gilead gegaan tot by Kades in die rigting van die Hetiete se land. Daarvandaan het hulle na Dan-Jaän gegaan en toe wes na Sidon gedraai.

7. Hulle is suid na Tirus, die stad met die muur om, en van daar af is hulle na al die dorpe van die Hewiete en Kanaäniete. Hulle is by al die dorpe langs tot in die suide van Juda by Berseba.

8. Hulle het die hele land deurgegaan. Dit het nege maande en twintig dae gevat voor hulle weer terug was in Jerusalem.

9. Joab het die getal van die manne wat kon veg, vir die koning gegee: daar was 800 000 in Israel en 500 000 in Juda.

10. Na die sensus het Dawid se gewete hom begin pla. Hy het vir die Here gaan sê: “Dis ’n verkeerde ding wat ek gedoen het, Here; vergewe my asseblief dat ek so onnosel was.”

11. Die volgende môre toe Dawid opstaan, kom die profeet Gad na hom toe. Hy moes altyd vir Dawid sê wat die Here wil hê.

12-13. Hierdie keer moes hy vir Dawid gaan sê: “Die Here sê jy kan kies wat Hy met jou moet doen: moet daar drie jaar hongersnood wees in jou land, of wil jy drie maande vlug vir jou vyande, of moet daar vir drie dae ’n pessiekte in jou land wees? Dink mooi daaroor, dan sê jy vir my wat ek vir die Here moet gaan sê.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 24