Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 2:21-32 Die Boodskap (DB)

21. Abner skree vir hom: “Hou op om my te jaag! Vang een van die jongmanne en vat sý wapens!”Maar Asael wou niks weet van wegdraai nie.

22. Abner skree toe weer vir hom: “Gee pad hier agter my! Ek gaan jou doodmaak! Hoe sal ek dan weer jou broer Joab in die oë kan kyk?”

23. Maar Asael wou nie hoor nie. Toe steek Abner hom so hard met die spies in sy maag dat die steel by sy rug uitkom. Asael het net daar dood neergeslaan. Almal wat verbygehardloop het, het gaan staan daar waar Asael dood gelê het.

24. Maar Joab en Abisai het op Abner se spoor gebly. Toe die son sak, kom hulle by Ammabult aan wat oos van Giag op pad na Gibeon se weivelde lê.

25. Die manne van Benjamin het by Abner saamgekom en in ’n digte bondel op een van die koppies gaan staan.

26. Toe skree Abner: “Joab! Moet ons dan vir altyd aanhou veg? Jy weet goed waar dit gaan eindig: almal gaan bitter kwaad en ongelukkig wees! Hoekom sê jy nie vir jou manne hulle moet ophou om hulle eie mense te jaag en dood te maak nie?”

27. Toe skree Joab terug: “So waar as God leef, as jy net vroeër gepraat het, het ons vanmôre al opgehou om mekaar aan te val!”

28. Joab het op ’n ramshoring geblaas. Die manne het gaan staan en opgehou om die Israeliete te jaag. Die geveg het daar opgehou.

29. Abner en sy manne het daardie hele nag getrek. Hulle is deur die Jordaanvallei en oor die rivier. Hulle het eers laat die volgende môre by Maganajim aangekom.

30. Nadat Joab opgehou het om Abner te jaag, het hy die manskappe almal bymekaargeroep. Die negentien man en Asael was al wat makeer het van Dawid se soldate.

31. Maar Dawid se soldate het 360 van die mense van Benjamin doodgemaak wat saam met Joab was.

32. Hulle het Asael se lyk gevat en hom in sy familiegraf by Betlehem gaan begrawe. Daarna het Joab en sy manne dwarsdeur die nag getrek en die volgende môre toe dit lig word, in Hebron aangekom.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 2