Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 18:21-29 Die Boodskap (DB)

21. Toe sê Joab vir ’n man uit Afrika wat daar by hom is: “Gaan vertel jý vir die koning wat jy gesien het.”Die man het voor Joab gebuig en in die pad geval.

22. Agimaäs hou toe aan by Joab en sê vir hom: “Kan ék nie asseblief ook maar agter daardie man aanhardloop nie?”“Maar my liewe mens,” sê Joab, “hoekom wil jy so graag die nuus gaan vertel? Jy sal nie geld kry daarvoor nie!”

23. “Nee, ek wil maar net hardloop,” sê Agimaäs.“Nou hardloop dan maar,” sê Joab.Agimaäs spring toe daar weg en vat die pad deur die Jordaanvallei. Naderhand is hy voor die man uit Afrika.

24. Dawid het tussen die eerste en die tweede groot deur by die ingang van die stad gesit. Die man wat op wag was, klim toe op in een van die uitkyktorings op die dik muur wat om die stad was. Toe hy uit die toring kyk, sien hy skielik iemand wat alleen aangehardloop kom.

25. Hy skree vir die koning daar van bo af wat hy sien.Die koning sê toe: “As hy alleen is, bring hy nuus!”Die man in die pad het al nader gekom.

26. Toe sien die wag nog ’n man wat aangehardloop kom. “Daar kom nog iemand alleen aangehardloop!” skree hy vir die man wat by die deur wagstaan.“Dan bring hy ook nuus,” sê die koning.

27. “Dit lyk vir my so aan sy hardloop die voorste een is Agimaäs, Sadok se seun,” skree die man in die toring.“Hy’s ’n goeie man,” sê die koning, “hy kom met goeie nuus.”

28. Hy was nog ’n ent weg toe skree hy al vir die koning: “Als is reg!” Toe hy met sy gesig teen die grond voor die koning buig, sê hy: “U Majesteit, ons moet die Here, u God, prys, want Hy het die mense wat teen u opgestaan het, op hulle plek gesit.”

29. “Wat van Absalom? Is my kind veilig?” vra die koning.“Ek het ’n groot klomp mense bymekaar gesien net toe u generaal, Joab, vir my gesê het om te hardloop. Maar ek weet nie wat het daar gebeur nie,” sê Agimaäs.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 18