Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 15:3-15 Die Boodskap (DB)

3. sê Absalom vir hom: “Jong, al het jy ’n goeie saak, is ek bevrees jy sal nie ’n regverdige verhoor by die koning kry nie.”

4. Hy voeg dan sommer by: “As ék darem die hoogste regter was, sou elkeen wat met sy saak na mý toe gekom het ’n regverdige uitspraak gekry het, hoor!”

5. As enigiemand na hom toe gekom het om voor hom te buig, het Absalom sy hand gevat en hom nader getrek en omhels.

6. Hy het met al die Israeliete wat na die koning toe gekom het vir ’n beslissing, so gemaak. Op dié manier het Absalom die Israeliete se harte gewen.

7. Na vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil baie graag ’n belofte wat ek vir die Here gemaak het, in Hebron gaan nakom.

8. Toe ek nog in Gesur by die Arameërs was, het ek vir die Here belowe dat, as Hy my regtig na Jerusalem toe terugbring, ek vir Hom in Hebron sal gaan offer.”

9. Die koning het gesê: “Gaan maar, en ek hoop alles gaan goed.”Hy het dadelik Hebron toe gegaan.

10. Intussen het hy in die geheim vir al die stamme in Israel se leiers laat weet: “As julle hoor die mense blaas op ramshorings, moet julle skree: ‘Absalom het koning geword in Hebron!’”

11. Daar het 200 mans saam met Absalom van Jerusalem af na Hebron toe gegaan. Hulle was genooi en het ewe onskuldig saamgegaan, want hulle het niks van die hele affêre geweet nie.

12. Absalom het ook vir Agitofel wat in die dorpie Gilo gebly het, na die offerfees laat kom. Agitofel het altyd vir Dawid goeie raad gegee. So het Absalom se geheime plan al hoe gevaarliker geword, want meer en meer mense het by hom aangesluit.

13. Toe Dawid hoor die Israeliete het Absalom se kant gekies,

14. sê hy vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem is: “Ons moet maak dat ons wegkom, voor Absalom ons in die hande kry! Julle moet gou maak en padgee, anders keer hy ons hier vas en dan het ons groot moeilikheid. Hy sal die mense in die stad voor die voet doodmaak.”

15. Hulle het vir die koning gesê: “Ons sal doen wat u sê, U Majesteit. Ons staan by u.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 15