Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 13:12-22 Die Boodskap (DB)

12. Maar sy het gesê: “Nee, my broer! Moenie my verkrag nie! Ons doen nie so iets in Israel nie! Moenie ’n dom ding doen nie!

13. Wat moet van my word as ek so ’n skande oorkom? Dink aan jouself! Almal in Israel sal dink jy’s ’n skurk! Praat liewer met die koning; ek is seker hy sal my met jou laat trou.”

14. Maar hy wou nie na haar luister nie. En omdat hy sterker was as sy, het hy haar vasgedruk en verkrag.

15. Toe hy met haar klaar is, wou hy niks met haar te doen hê nie. So verlief as wat hy voor die tyd was, so min wou hy daarna met haar te doen hê. Hy het vir haar gesê: “Staan op! Gaan uit my huis uit!”

16. “Nee!” sê sy vir hom. “As jy my nou wegjaag, doen jy nog ’n leliker ding as wat jy alreeds gedoen het.”Maar hy wou nie na haar luister nie.

17. Hy roep toe sy kamerbediende en sê vir hom: “Smyt hierdie vrou uit my huis uit en sluit die deur!”

18. Die bediende het haar uit die huis uitgesit en die deur agter haar toegesluit.Tamar het ’n lang rok met moue aangehad. Al die prinsesse wat nog jongmeisies was, het so aangetrek.

19. Toe sy buite kom, het sy haar lang rok geskeur en grond op haar kop gegooi. Sy het met haar hande op haar kop daar weggeloop en die hele tyd hard geskree.

20. Toe sy by haar broer Absalom kom, sê hy vir haar: “Daardie broer Amnon van jou het dit gedoen, nè? Toemaar, my ou sus! Moenie daaroor praat nie, hoor! Hy’s darem jou broer. Moenie jou te veel daaroor kwel nie.”Tamar het by haar broer Absalom ingetrek. Sy was ’n gebroke mens.

21. Toe koning Dawid hoor wat alles gebeur het, was hy woedend.

22. Absalom het Amnon gehaat omdat hy sy suster Tamar verkrag het, maar hy het nie ’n woord met hom daaroor gepraat nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 13