Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 12:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het Natan na Dawid toe gestuur. Toe hy by hom kom, sê hy vir hom: “Daar was twee mense in ’n dorp; die een was ryk en die ander een arm.

2. Die ryk man het baie skape en beeste gehad,

3. en die arm man net een ou ooilammetjie wat hy gekoop het toe sy nog baie klein was. Hy het haar hans grootgemaak. Sy het by hom en sy kinders in die huis grootgeword en van hulle paar stukkies brood geëet en uit dieselfde beker as hulle gedrink. Sy het baie keer op sy skoot gelê. Sy was soos ’n kind in die huis.

4. “Op ’n dag kom daar toe iemand by die ryk man kuier. Hy was te jammer om een van sy eie skape of beeste te slag en ’n ete vir die kuiergas te kook. Hy vat toe die ooilam van die arm man en maak haar gaar.”

5. Dawid was briesend kwaad vir die man wat so iets kon doen. Hy sê vir Natan: “So waar as die Here leef, die man wat dít gedoen het, moet die doodstraf kry!

6. En daar moet vier van sy lammers gegee word in die plek van daardie een ooilam. Hoe kon die man so iets doen en nie eers jammer voel vir die arm man nie!”

7. “Jý is daardie man!” sê Natan vir hom. “Die Here, die God van Israel, het vir jou hierdie boodskap gestuur. Hy het gesê: ‘Ek het jou koning laat word oor Israel, en Ek is die Een wat jou gehelp het teen Saul.

8. Ek het vir jou alles gegee wat hy gehad het. Ek het vir jou sy harem ook gegee. Ek het vir jou die hele koninkryk van Israel en van Juda gegee. As dit te min was, kon Ek vir jou nog baie sulke dinge daar bygee!

9. Hoekom het jy jou nie gesteur aan wat Ek, die Here, sê nie, en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija, die Hetiet, in die oorlog laat doodmaak en sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met ’n swaard van die Ammoniete!

10. Nou gaan daar altyd moord en doodslag in jou huis wees omdat jy jou nie aan My gesteur het nie en Urija, die Hetiet, se vrou vir jou gevat het!’

11. “Die Here het vir jou nog ’n boodskap. Hy het gesê: ‘Ek sal sorg dat daar vir jou genoeg moeilikheid uit jou eie familie kom: jy sal sien hoe Ek jóú vroue vat en vir iemand gee wat naby jou is. Hy sal helder oordag by hulle slaap.

12. Die ding wat jy skelm in die donker gedoen het, gaan Ek voor al die Israeliete helder oordag laat gebeur.’”

13. Dawid het vir Natan gesê: “Ek het ’n vreeslike verkeerde ding teen die Here gedoen!”Natan het geantwoord: “Die Here sal die fout wat jy gemaak het, oorsien: jy sal nie die doodstraf kry nie,

14. maar die kind wat gebore is, sal vir seker doodgaan, want jy het die Here in die gesig gevat toe jy hierdie verskriklike ding gedoen het.”

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 12