Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 10:8-19 Die Boodskap (DB)

8. Die Ammoniete se soldate het reggestaan voor die ingang na hulle hoofstad. Die Arameërs van Soba en Regob en die manne van Is-Tob en Maäka was eenkant in die oop veld.

9. Joab het gesien hulle gaan hom van voor en van agter af aanval. Daarom het hy die heel beste soldate in Israel laat regstaan om teen die Arameërs te veg.

10. Die ander soldate het hy vir sy broer Abisai gegee sodat hulle teen die Ammoniete kon veg.

11. Joab het vir Abisai gesê: “As die Arameërs my wen, moet jy my kom help, en as die Ammoniete jou wen, sal ek jou gaan help.

12. Maar julle moet moed hou! Ons moet dapper veg vir ons mense en vir die dorpe van ons God. Die Here sal besluit wie hier gaan wen.”

13. Joab het met die manne wat by hom was, die Arameërs aangeval, maar hulle het vir hom weggehardloop.

14. Toe die Ammoniete sien die Arameërs hardloop weg, het hulle ook vir Abisai padgegee en in hulle stad ingegaan. Joab het toe nie verder geveg teen die Ammoniete nie en teruggegaan Jerusalem toe.

15. Toe die Arameërs sien dat hulle teen die Israeliete verloor het, het hulle al die soldate wat hulle het, bymekaargemaak.

16. Hadad-Eser het ook die soldate wat oorkant die Eufraat was, laat kom. Die hele leër van die Arameërs het na Gelam toe getrek. Sobak, Hadad-Eser se groot generaal, was die leier.

17. Toe Dawid dit hoor, het hy al die Israeliete wat kon veg, bymekaar laat kom en deur die Jordaanrivier na Gelam toe getrek. Die Arameërs was reg vir Dawid en het teen hom begin veg.

18. Maar hulle moes weer vir die Israeliete vlug. Dawid het 700 van die Arameërs se perde wat strydwaens trek, doodgemaak en ook 40 000 van die soldate wat op die strydwaens ry. Sobak, die groot generaal, is ook in die geveg dood.

19. Toe die kleiner konings wat vir Hadad-Eser in die oorlog moes help, sien dat hulle teen Israel verloor het, het hulle met die Israeliete vrede gemaak en vir hulle gewerk. Die Arameërs van Hadad-Eser was daarna te bang om die Ammoniete weer te help.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 10