Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:13-23 Die Boodskap (DB)

13. Salomo het elke jaar omtrent 23 ton goud ontvang.

14. Dit sluit nie eens die belasting in wat hy op die handelaars en reisigers gehef het nie. Daarby het al die Arabiese konings en die goewerneurs van gebiede ook vir Salomo goud en silwer ingebring.

15. Koning Salomo het 200 groot en 300 klein goue skilde laat maak. Vir elke groot skild het hy byna sewe kilogram goud gebruik

16. en vir elke klein skild omtrent drie en ’n half kilogram. Hy het al die skilde in die gebou, bekend as Woud van die Libanon, geplaas.

17. Verder het die koning ’n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

18. Die troon het ses trappe gehad. Daar was ook ’n goue voetrus aan die troon vasgeheg. Weerskante van die sitplek was daar armleunings met ’n leeu aan elke kant.

19. Daar was ook twaalf leeus op die trappe, ses aan elke kant. Daar is nie nog só ’n koningstroon in ’n ander koninkryk te vind nie!

20. Al koning Salomo se drinkbekers was van goud. Dit was ook die geval met alles wat in die gebou met die naam Woud van die Libanon gebruik is. Silwer was in die tyd van Salomo so volop dat dit nie eintlik in tel was nie.

21. Die koning het destyds ’n handelsvloot gehad wat beman is deur matrose wat deur Hiram beskikbaar gestel is. Hulle het een keer elke drie jaar teruggekom en dan was hulle skepe gelaai met goud, silwer, ivoor, ape en poue.

22. Algaande het Salomo ryker en wyser geword as enige ander koning op aarde.

23. Konings van oraloor het na hom toe gekom om na die wysheid te luister wat God vir hom gegee het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9