Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Die koningin van Skeba het gehoor van Salomo se goeie naam en van sy besondere wysheid. Daarop het sy besluit om Jerusalem toe te gaan om hom met moeilike vrae te toets. Sy het met ’n groot groep bediendes daar aangekom. Daar was ook ’n karavaan kamele wat gelaai was met speserye, baie goud en waardevolle edelstene. Nadat sy hom ontmoet het, het sy oor alles waaroor sy nagedink het, met hom gepraat.

2. Salomo het antwoorde op al haar vrae gehad. Niks was vir hom te ingewikkeld om te verstaan nie.

3. Salomo se wysheid en die paleis wat hy gebou het,

4. het die koningin van Skeba se asem weggeslaan. Sy was ook verstom oor die kos op die tafels, die amptenare rondom hom, die tafelbediendes en skinkers en die klere wat hulle gedra het, en die brandoffers wat Salomo by die tempel van die Here gebring het.

5. Sy het vir Salomo gesê: “Die gerugte wat ek by die huis oor u wysheid en prestasies gehoor het, is die waarheid!

6. Ek het nie geglo wat ek gehoor het nie. Maar noudat ek dit met my eie oë gesien het, besef ek dat die helfte my nooit vertel is nie! U wysheid is baie groter as wat ek ooit kon vermoed.

7. Hoe gelukkig is hierdie mense tog nie! Wat ’n voorreg is dit vir u amptenare wat elke dag na u wysheid kan luister.

8. Die Here, u God, is inderdaad baie groot! Dit is omdat u God Israel so liefhet en besluit het om hulle vir altyd in stand te hou dat Hy u hulle koning gemaak het, om regverdig te regeer.”

9. Sy het toe vir die koning omtrent vier ton goud en ’n groot hoeveelheid speserye en edelstene gegee. Daar was nog nie voorheen sulke hoë kwaliteit speserye soos dié wat die koningin van Skeba vir Salomo gegee het nie.

10. (Toe Hiram en Salomo se skepe destyds goud van Ofir af gebring het, het hulle ook jenewerhout en edelstene saamgebring.

11. Die koning het die hout gebruik om trappe vir die tempel en die paleis te bou en om liere en harpe vir die musikante te maak. Sulke instrumente is nog nie voorheen in Juda gesien nie.)

12. Koning Salomo het op sy beurt vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy gevra het. Dit was selfs meer werd as die geskenke wat sy vir hom gegee het. Sy en al haar mense het toe vertrek en na haar land toe teruggekeer.

13. Salomo het elke jaar omtrent 23 ton goud ontvang.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9