Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:2-13 Die Boodskap (DB)

2. Maar ek het vir U ’n waardige huis gebou, ’n plek waarin U vir altyd kan woon.”

3. Salomo het toe omgedraai en die hele Israel wat daar voor hom gestaan het, geseën.

4. Hy het vir hulle gesê: “Ek loof die Here wat gedoen het wat Hy vir my pa, Dawid, belowe het.

5. Die Here het vir hom gesê: ‘Sedert die tyd toe Ek my volk uit Egipte gelei het, het Ek geen stad gekies waar ’n tempel tot my eer gebou moes word nie. Ek het ook nie ’n koning gekies om my volk te lei nie.

6. Maar nou het Ek Jerusalem as daardie stad en Dawid as daardie koning gekies.’”

7. Salomo het voortgegaan: “My pa, Dawid, wou die tempel baie graag bou om die Here se Naam te vereer.

8. Die Here het egter vir hom gesê: ‘Dit is goed dat jy vir My ’n tempel wil bou,

9. maar dit sal nie jy wees wat die tempel bou nie. Een van jou seuns sal dit doen.’

10. “Nou het die Here sy belofte nagekom: ek het koning geword in my pa se plek en ek het die tempel tot eer van die Here, die God van Israel, gebou.

11. Ek het die ark in die tempel gesit. Die ark is die simbool van die ooreenkoms wat die Here met Israel gesluit het.”

12. Salomo het voor die hele volk by die altaar van die Here gaan staan en sy hande uitgesteek.

13. Hy het op ’n bronsverhoog gestaan wat hy in die binneruimte van die tempel gesit het. Die verhoog was vierkantig met sye van twee en ’n half meter lank. Dit was ’n meter en ’n half hoog. Hy het op die verhoog geklim en voor die hele gemeente van Israel neergekniel en sy hande na die hemel uitgesteek.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6