Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 34:23-33 Die Boodskap (DB)

23. Sy het hulle geantwoord: “Hier is ’n boodskap van die Here af vir julle koning.

24. Gaan sê vir hom die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek gaan Jerusalem en sy mense vernietig, net soos dit in die boek staan wat julle gelees het.

25. Hulle het opgehou om My te eer en ander goed begin dien wat glad nie gode is nie. Ek is baie kwaad daaroor. My woede is soos ’n vuur wat nie meer geblus kan word nie.’”

26. Sy het egter ook gesê: “Hier is ook ’n persoonlike boodskap van die Here af vir Josia. Die Here sê vir hom:

27. ‘Ek het gesien hoe jy op die boodskap van die wetboek gereageer het, hoe ontsteld jy was toe jy sien watter oordeel die stad en sy mense gaan tref. Omdat jy jou voor My verneder het en jammer is oor alles,

28. sal Ek sorg dat die oordeel jou nie tref nie. Jy sal gewoonweg sterf en in vrede begrawe word, sonder om die oordeel oor Jerusalem te beleef.’”Gilkija-hulle het die boodskap vir Josia gebring.

29. Nadat Josia die boodskap gehoor het, het hy ’n vergadering met die leiers van Juda en Jerusalem belê.

30. Hy en al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, die priesters en die Leviete, die belangrikes en die onbelangrikes, het na die tempel toe gegaan. Daar het hy vir hulle die hele wetboek voorgelees wat in die tempel van die Here gekry is.

31. Josia het toe op die koning se ereplek gaan staan en met die Here ’n ooreenkoms gesluit. Hy het belowe om met volle oorgawe alles te doen wat die Here in die wetboek vra.

32. Hy het ook van al die mense van Juda en Jerusalem verwag om hulle aan die ooreenkoms te hou.Die hele volk het hulle aan hierdie ooreenkoms verbind.

33. Josia het daarna al die goed wat vir die Here aanstootlik was uit Israel laat wegneem. Hy het elke Israeliet verplig om die Here hulle God te dien. Vir die res van sy lewe het hulle nie weer weggedwaal van God, die Here, nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 34