Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 32:4-19 Die Boodskap (DB)

4. ’n Groot klomp werkers is toe opgeroep om die fonteine te verseël en die stroom water te blokkeer wat deur die land vloei. Hulle het gesê: “Hoekom moet die Assiriese konings nou hier kom en baie water hê?”

5. Hiskia het hard gewerk om Jerusalem te beveilig deur alle swak plekke in die muur te herbou en dit met torings te versterk en deur ’n tweede muur rondom die stad te bou. Hy het ook baie wapens en skilde laat maak.

6. Daarna het hy bevelvoerders oor die soldate aangestel en hulle op die plein by die stadspoort laat vergader. Hy het hulle toegespreek:

7. “Wees sterk en dapper! Moenie bang wees vir die Assiriese koning en sy groot leër nie. By ons is daar ’n sterker mag as by hom.

8. Hy het net mense in sy leër, maar ons het die Here ons God aan ons kant. Hy help ons en veg saam met ons!”Die soldate het moed geskep uit koning Hiskia se woorde.

9. Koning Sanherib van Assirië was besig om Lagis met al sy magte te beleër. Van daar af het hy boodskappers na Jerusalem toe gestuur om met koning Hiskia en al die Judeërs in Jerusalem te praat. Hulle boodskap was:

10. “Luister wat sê koning Sanherib van Assirië: Waarom dink julle dat julle my aanval op Jerusalem sal kan oorleef?

11. Hiskia sê mos: ‘Die Here ons God sal ons beskerm teen die Assiriese koning!’ Hy mislei julle. Dit sal maak dat julle nog van honger en dors doodgaan.

12. Is dit nie dieselfde Hiskia wat die Here se heilige plekke en altare laat vernietig het nie? Dis mos hy wat vir die mense van Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle mag die Here net by een altaar vereer en net op die een plek wierook brand.’

13. Julle moet tog weet wat ek en my voorgangers met al die volke in die wêreld gedoen het! Was enigeen van daardie volke se gode sterk genoeg om hulle uit my kloue te red?

14. Nie een van die volke wat my voorgangers uitgeroei het, se gode was sterk genoeg om hulle te red nie. Hoe sal júlle God dit tog kan regkry?

15. Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Ek herhaal, geen god kon tot dusver enige volk teen my of my voorgangers beskerm nie. Nog minder sal julle God julle teen my kan beskerm!”

16. Die boodskappers het nog baie beledigings teen die Here God en teen sy dienaar Hiskia uitgespreek.

17. Die koning het ook briewe geskryf waarin hy die Here, die God van Israel, beledig het. Hy het geskryf: “Net soos die ander volke se gode hulle nie uit my mag kon red nie, sal die God van Hiskia dit ook nie regkry nie.”

18. Die Assiriese boodskappers het hard in Hebreeus gepraat sodat almal hulle kon verstaan. Hulle doel was om die soldate op die mure te verwar en bang te maak sodat hulle Jerusalem kon inneem.

19. Hulle het oor die God van Jerusalem gepraat asof Hy maar net soos een van die handgemaakte gode van die ander volke was.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 32