Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 32:20-30 Die Boodskap (DB)

20. Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja, Amos se seun, ernstig gebid.

21. Die Here het ’n engel gestuur wat die hele Assiriese leër met al sy bevelvoerders en offisiere doodgemaak het. Sanherib moes vernederd na sy land toe teruggaan. Toe hy daar die tempel van sy god besoek, het van sy eie kinders hom doodgemaak.

22. So het die Here Hiskia en die inwoners van Jerusalem van die Assiriese koning Sanherib en van al hulle ander vyande verlos. Daar was toe vrede met almal rondom hulle.

23. Baie mense het geskenke vir die Here Jerusalem toe gebring. Daar was ook baie wat duur geskenke vir koning Hiskia gebring het.Na alles wat gebeur het, het Hiskia ’n goeie naam gehad onder die nasies.

24. Hiskia het in dié tyd ernstig siek geword. Hy het tot die Here gebid. Sy gebed is verhoor en hy het gesond geword.

25. Maar Hiskia het nie reg gemaak nadat die Here hierdie groot guns aan hom bewys het nie. Hy was vol van homself. Daarom het die Here kwaad geword vir hom en vir Juda en Jerusalem.

26. Hiskia het toe erken dat hy hoogmoedig geword het en die inwoners van Jerusalem het hulleself verneder. Daarom het die Here se wraak hulle nie in Hiskia se tyd getref nie.

27. Hiskia was baie ryk. Almal het groot respek vir hom gehad. Hy het skatkamers vir sy silwer, goud en juwele laat bou, ook vir speserye, skilde en ander waardevolle items.

28. Daarby het hy stoorkamers vir sy deel van die graanoes, die nuwe wyn en olyfolie gebou. Hy het ook krale en stalle vir sy beeste en troppe kleinvee gebou.

29. Hy het ook stede gebou en reusetroppe kleinvee en beeste besit. Die Here het hom baie ryk gemaak.

30. Hiskia het die boonste oog van die Gihonfontein toegemaak en die water deur ’n tonnel na die westekant van die Dawidstad gelei. Hy het baie goed gevaar met al die projekte wat hy aangepak het,

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 32