Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 3:2-13 Die Boodskap (DB)

2. Salomo het op die tweede dag van die tweede maand van sy vierde regeringsjaar met die bouwerk begin.

3. Die afmetings van die gebou se grondplan was 30 meter in lengte en tien meter in die breedte.

4. Die pilaargang aan die voorkant was die volle breedte van die gebou, naamlik tien meter lank. Die plafon was tien meter hoog en die mure aan die binnekant was met goud oorgetrek.

5. Salomo het die mure van die groot vertrek met panele van sipreshout bedek en dit met ’n dun lagie plaatgoud oorgetrek. Dit is met uitgekerfde palmbome en kettings versier.

6. Die gebou is verder met edelstene versier. Die goud wat hy gebruik het, het van Parwajim af gekom.

7. Al die mure, balke, deure en kosyne is met goud oorgetrek en daar is gerubfigure (dit is diere met vlerke) op die mure uitgesny.

8. Die Allerheiligste deel van die tempel was ’n vierkant van tien by tien meter. Al daardie mure is met suiwer goud beslaan. Die goudplate wat hulle gebruik het, het omtrent twintig ton geweeg

9. en die spykertjies waarmee dit vasgekap is meer as ’n halwe kilogram. Salomo het ook die boonste kamers met goud oorgetrek.

10. In die Allerheiligste was daar twee gerubsbeelde van gegote metaal. Hulle is ook met goud oorgetrek.

11. Hulle het langs mekaar gestaan en hulle vlerkspan was tien meter lank. Elke vlerk was twee en ’n half meter.

12. Elkeen van die gerubs se buitenste vlerk het aan ’n muur van die Allerheiligste geraak. In die middel het hulle vlerke aan mekaar geraak.

13. Die vlerke het oor die volle tien meter wydte van die Allerheiligste gestrek. Die gerubs het op hulle eie pote gestaan en in die rigting van die groot vertrek van die tempel gekyk.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 3