Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 28:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Agas was twintig toe hy koning geword het. Hy het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie so tevrede met wat Agas gedoen het as met Dawid nie.

2. Hy het dieselfde sondes gedoen as die konings van Israel. Agas het onder andere beelde van die Baäls gemaak wat die mense moes aanbid;

3. offers vir vreemde gode gebring in die Ben-Hinnomdal; sy seuns met vuur verbrand as offers aan die gode, net soos die heidene vroeër gedoen het, en

4. diere geoffer en wierook gebrand op al die ander nasies se godsdienstige plekke.

5. Daarom het die Here sy God toegelaat dat die koning van Aram hom verslaan. Hy het ’n hele klomp gevangenes na Damaskus toe weggevat.Die Here het ook toegelaat dat Israel se leër Agas s’n verpletterend verslaan.

6. Die leër van koning Peka van Israel, Remalia se seun, het op één dag 120 000 van Juda se uitsoeksoldate doodgemaak. Dit het gebeur omdat hulle nie meer gedoen het wat die Here hulle God van hulle verwag het nie.

7. Sikri, ’n held uit Efraim, het drie baie hoë amptenare van Juda doodgemaak. Hulle was Maäseja, een van die koning se seuns, Asrikam, die paleisbevelvoerder en Elkana, die koning se tweede-in-bevel.

8. Die Israeliete het 200 000 Judeërs gevange geneem: vroue, seuns en dogters, almal familie van hulle. Hulle het ook die land geplunder en baie goed gevat. Hulle het al die goed en die gevangenes na Samaria toe weggevat.

9. Oded was ’n boodskapper van die Here. Toe die leër van Israel na Samaria toe op pad was, het hy uitgegaan om hulle te ontmoet. Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van julle voorouers, was kwaad vir Juda. Daarom het Hy toegelaat dat julle hulle so vernederend kon verslaan. Maar julle het die moord en doodslag te ver gevoer. Dit skree ten hemele.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 28