Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 2:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Salomo het besluit dat die tyd ryp was om die tempel vir die Here en ’n paleis vir homself te bou.

2. Hy het 70 000 arbeiders en 80 000 klipkappers op die heuwels aan die werk gesit en 3 600 voormanne het oor hulle werk toesig gehou.

3. Daarby het Salomo die volgende boodskap na koning Hiram van Tirus gestuur: “U was so goed om sederhoutstompe vir my pa Dawid te voorsien toe hy sy paleis gebou het.

4. Nou staan ek op die punt om ’n tempel vir die Here my God te bou en dit aan Hom te wy. Ek sal daar wierook vir Hom brand, gereeld die offerbrood uitpak, oggend- en aandoffers bring, sowel as die offers vir die sabbat, die nuwemaan en die spesiale feeste vir die Here ons God. Hy het ons beveel om dié dinge vir altyd te doen.

5. “Die tempel wat ek gaan bou, sal iets groots wees, want ons God is groter as enige ander god.

6. Maar wie kan vir Hom ’n huis bou wat by Hom pas as die hoogste hemele Hom nie eens kan huisves nie? Wie is ék nou eintlik om vir Hom ’n huis te bou, behalwe om daarin vir Hom offers te bring?

7. “Hier is nou my versoek: stuur tog vir my ’n bekwame vakman wat met metale soos goud, silwer, brons en yster kan werk en wat vaardig is met pers, rooi en blou materiaal en wat goed is met gravering. Hy sal hier saam met vakmanne uit Juda en Jerusalem werk, wat my pa destyds aangestel het.

8. Stuur ook vir my seder- en sipreshout en ander edelhoutsoorte wat daar in die Libanonberg groei. Ek weet hoe vaardig u mense is om bome op te saag. My werkers sal u s’n help

9. om ’n baie groot hoeveelheid planke voor te berei, want die huis wat ek wil bou gaan so groot wees dat mense hulle daaroor sal verwonder.

10. “Ek sal baie kos vir u werkers voorsien wat die hout moet kap. Ek sal sorg vir meer as 3 600 ton koring en net soveel gars en vir 420 kiloliter wyn en net soveel olyfolie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 2