Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 14:8-15 Die Boodskap (DB)

8. Asa se leër het uit twee groepe bestaan. Daar was 300 000 man uit Juda, wat elkeen toegerus was met ’n skild en ’n spies. Dan was daar ’n verdere 280 000 man uit Benjamin, elkeen toegerus met ’n skild en pyl en boog. Hulle was uitgesoekte soldate.

9. Op ’n keer het Serag, ’n Etiopiese offisier, Juda met ’n leërmag van ’n miljoen soldate en 300 strydwaens aangeval. Hulle het tot by die stad Maresa gevorder

10. waar Asa sy soldate in die Sefatalaagte opgestel het.

11. Asa was bang en het vir die Here sy God gesê: “Here, U steur U mos nie aan getalle wanneer U iemand help nie. Help ons tog nou, o Here! Ons vertrou op U en ons veg teen hierdie skare in u Naam. Here, U is ons God. Menslike krag kan nie teen U standhou nie.”

12. Die Here het die Etiopiërs toe deur Asa en die Judese leër verslaan en die vyand het gevlug.

13. Asa en sy soldate het hulle tot by Gerar agtervolg. Soveel Etiopiërs is in die veldslag dood dat dit onmoontlik was om hulle te organiseer. Hulle is deur die Here en sy leër vernietig. Die Judese soldate het baie buit afgeneem.

14. Dit het aangehou terwyl hulle die stede rondom Gerar aangeval en geplunder het, want daar was baie om te vat. Die mense van daardie stede het baie bang geword vir die Here se ontsettende mag.

15. Die Judeërs het ook die veewagters in hulle tente aangeval en baie skape en kamele gebuit.Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 14