Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9:22-28 Die Boodskap (DB)

22. Toe hulle naby aan mekaar was, het Joram geroep: “Jehu, kom jy in vrede?”“Vrede? Wat bedoel jy?” het Jehu gevra. “Hoe kan daar vrede wees terwyl jou ma vreemde gode laat vereer en towery bedryf?”

23. Joram het besef wat aangaan en sy strydwa omgepluk om te vlug. Hy het vir Ahasia geskree: “Dit is verraad, Ahasia!”

24. Jehu het sy boog gespan en Joram tussen die blaaie geskiet. Die pyl het deur sy hart gegaan en hy het net daar bo-op sy strydwa dood inmekaargesak.

25. Jehu het vir Bidkar, sy adjudant, gesê: “Gooi hom net hier op Nabot se stuk grond af. Onthou jy destyds toe ek en jy langs mekaar agter sy pa Agab gery het, het Agab die volgende boodskap van die Here af gekry:

26. ‘Ek sweer dat Ek die moord op Nabot en sy seuns gesien het. Ek sal jou en jou familie op hierdie selfde stuk grond laat boet!’ Dus, gooi hom hier op Nabot se grond af, soos die Here gesê het.”

27. Toe Ahasia sien wat gebeur, het hy weggejaag in die rigting van Bet-Gan. Jehu het agter hom aangejaag en vir sy mense geskree: “Skiet hom ook!” By die hoogte van Gur, naby Jiblaim, is hy gewond. Hy kon nog tot by Megiddo wegjaag, waar hy dood is.

28. Sy amptenare het sy lyk op sy strydwa Jerusalem toe geneem en hom daar, in die Stad van Dawid, by sy voorouers begrawe.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 9