Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Naäman was die bevelvoerder van die Aramese leër. Hy was ’n dapper soldaat en gewild by die koning van Aram omdat die Here onder sy leiding vir die Arameërs groot oorwinnings gegee het. Naäman het egter ’n aansteeklike velsiekte gehad.

2. Aramese bendes het in dié tyd strooptogte in dele van Israel uitgevoer. Een van hulle gevangenes was ’n jongmeisie. Sy het in Naäman se huis beland as bediende vir sy vrou.

3. Op ’n dag sê die meisie vir Naäman se vrou: “Ek wens Meneer kon by die profeet in Samaria uitkom. Hy sou hom maklik gesond kon maak.”

4. Naäman het daarvan gehoor en vir die koning gaan vertel wat die Israelitiese meisie gesê het.

5. Die koning was dadelik positief en het gesê: “Jy kan gaan en ek sal vir jou ’n brief aan die koning van Israel saamgee.” Naäman het dadelik gereedgemaak en ’n baie waardevolle geskenk van 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en tien stelle klere saamgeneem.

6. Die brief se inhoud was: “Die draer hiervan is my amptenaar Naäman. Sal jy sy velsiekte gesond maak, asseblief?”

7. Toe die koning van Israel die brief lees, was hy baie ontsteld. “Hulle soek net ’n rede om ons aan te val! Is ek miskien God wat oor lewe en dood beskik? Hoe kan hy ’n siek mens na my toe stuur en vra dat ek hom gesond moet maak?” het hy gevra.

8. Elisa het gehoor hoe die koning te kere gegaan en sy klere geskeur het. Hy het toe vir hom ’n boodskap gestuur: “Vir wat is jy so ontsteld? Stuur die man na my toe. Dan sal hy uitvind dat hier werklik ’n profeet in Israel is!”

9. Naäman en sy hele gevolg het toe na Elisa se huis toe gery.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5