Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:22-31 Die Boodskap (DB)

22. Sy het toe vir haar man laat weet: “Stuur vir my een van die werkers en ’n donkie. Ek wil gou die man van God gaan besoek. Ek sal binnekort terug wees.”

23. “Waarom vandag?” het haar man gevra. “Dit is tog nie vandag nuwemaan of sabbat nie.”“Toemaar, wees gerus,” het sy geantwoord

24. en onmiddellik die donkie opgesaal. Sy het vir die werker gesê: “Jaag die donkie aan en moet nie stadiger ry nie, behalwe as ek so sê.”

25. Sy het na Elisa toe gery waar hy op die Karmelberg gebly het. Elisa het haar gesien toe sy nog ’n ent weg was en vir Gehasi gesê: “Kyk daar. Dit is die vrou van Sunem.

26. Draf haar tegemoet en vra hoe dit met haar en haar man en kind by die huis gaan.”Sy het net vir Gehasi gesê: “Dit gaan goed,”

27. maar verbygejaag na Elisa toe op die berg. Toe sy by hom kom, het sy voor hom op die grond geval en sy voete vasgegryp. Gehasi wou haar wegstoot van Elisa af, maar hy het gesê: “Los haar. Sy is baie ontsteld. Hier is groot fout, maar die Here het niks daarvan vir my gesê nie.”

28. “Ag, Meneer,” het sy gekerm, “het ek u gevra vir ’n seun? Nee, ek het gesê u moet my nie vals hoop gee nie.”

29. Elisa het vir Gehasi gesê: “Kry jou reg om dadelik te gaan! Vat my kierie saam. Jy moet met niemand op pad praat nie. Gaan reguit na die kind toe en sit my kierie op sy gesig neer.”

30. Die vrou het egter gesê: “So seker as die Here en u leef, ek sal nie huis toe gaan as u nie saamkom nie!” Elisa het toe saam met haar gegaan.

31. Gehasi het vinnig vooruitgegaan en Elisa se kierie op die kind se gesig neergesit. Niks het egter gebeur nie, daar was geen teken van lewe nie. Hy het teruggegaan na Elisa toe en gesê: “Die kind is nog steeds dood.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4