Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 20:10-20 Die Boodskap (DB)

10. Hiskia sê toe: “Die skaduwee beweeg die hele tyd vorentoe. Laat dit as ’n teken van die Here se belofte tien trappe terugbeweeg.”

11. Jesaja het toe ernstig gebid en die Here het die skaduwee op die trappe wat Agas gebou het, tien trappe terug laat beweeg.

12. Kort nadat Hiskia so siek was, het Merodag-Baladan, die koning van Babel, briewe en ’n geskenk na hom toe gestuur. Hy het gehoor van Hiskia se siekte en herstel.

13. Hiskia het die afgevaardigdes hartlik ontvang en hulle in Jerusalem rondgewys. Hy het sy skatkamers vir hulle gewys, met al die goud en silwer, speserye en duur geurige olies daarin. Hy het die wapenstore en ander stoorkamers vir hulle gewys. Daar was eintlik niks wat hy nie vir hulle gewys het nie.

14. Jesaja die profeet het toe na Hiskia toe gegaan en gevra wie die besoekers was en waarvandaan hulle gekom het. Hiskia het geantwoord: “Hulle kom uit die ver land, Babel.”

15. “Nou wat het hulle alles in jou paleis gesien?” het Jesaja gevra.“Alles,” het Hiskia geantwoord, “daar is niks wat ek vir hulle weggesteek het nie.”

16. Daarop sê Jesaja vir Hiskia: “Hier is ’n boodskap vir jou van die Here af:

17. ‘Eendag sal dit gebeur dat al die skatte in jou paleis en alles wat die Judese konings voor jou versamel het, na Babel toe weggedra word. Niks sal hier oorbly nie.

18. Jou eie seuns sal nog Babel toe geneem word om bediendes te word in die koning se paleis.’”

19. Hiskia het Jesaja geantwoord: “Die boodskap van jou is reg so,” maar hy het by homself gedink: “Daar sal ten minste vrede en veiligheid wees so lank as wat ek leef.”

20. Die res van Hiskia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Daar word ook vertel van die dam en watervoor wat hy laat bou het om water in die stad in te lei.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 20