Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:8-16 Die Boodskap (DB)

8. Hy het ook teen die Filistyne geveg en hulle verslaan. Hiskia het Gasa met sy hele gebied ingeneem: van die kleinste buitepos tot die grootste ommuurde stad.

9. Gedurende die vierde jaar wat Hiskia regeer het (dit was in Hosea van Israel se sewende jaar), het koning Salmaneser van Assirië Israel aangeval en die hoofstad Samaria van die buitewêreld afgesny.

10. Drie jaar later, in Hiskia se sesde jaar en Hosea se negende jaar, het hulle Samaria ingeneem.

11. Die Assiriese koning het die Israeliete as gevangenes na Assirië weggevoer. Hulle is in Galag, aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië hervestig.

12. Dit het gebeur omdat hulle nie gedoen het wat die Here hulle God van hulle verwag het nie. Hulle het die ooreenkoms wat die Here deur sy dienaar Moses met hulle gesluit het, verbreek. Hulle het hulle eenvoudig nie daaraan gesteur nie.

13. Gedurende die veertiende jaar wat Hiskia regeer het, het koning Sanherib van Assirië Juda binnegeval en al die versterkte stede ingeneem.

14. Hiskia het dadelik ’n boodskap na die Assiriese koning in Lagis gestuur. Hy het vir Sanherib gesê: “Ek was verkeerd. Trek tog u leër terug en watter boete u my ook al oplê, sal ek betaal.” Sanherib het toe byna tien ton silwer en ’n ton goud van hom geëis.

15. Hiskia het al die silwer gevat wat hy in die tempel en die paleis se stoorkamers kon kry.

16. Om genoeg goud te kry moes hy die goud afhaal wat hy self nog aan die deure en kosyne van die tempel vasgeslaan het. Hy het toe al die silwer en goud aan die koning van Assirië besorg.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18