Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:17-21 Die Boodskap (DB)

17. Daarna het die Assiriese koning tog die hoof van sy leër en twee baie hoë amptenare met ’n leërafdeling van Lagis af na Hiskia in Jerusalem gestuur. Die Assiriese afvaardiging het by die watervoor gestop wat water na die boonste dam bring. Dit is naby die pad na die stuk veld waar hulle materiaal gebleik het.

18. Hulle het koning Hiskia laat roep, maar hy het drie amptenare gestuur om met hulle te onderhandel. Die drie was: Eljakim, Gilkija se seun wat hoof van die paleishuishouding was; Sebna, die staatsekretaris, en Joag, Asaf se seun, die staatshistorikus.

19. Die hoofgesant van die Assiriese koning het die volgende boodskap aan Hiskia gestuur: “Luister na die groot koning van Assirië se boodskap: Op wie vertrou jy miskien dat jy so selfversekerd is?

20. Dink jy dalk jou woorde is ’n antwoord op my militêre strategie en krag? Op wie steun jy dat jy dit waag om teen my in opstand te kom?

21. “Dink jy Egipte gaan jou teen my help? Egipte is net so min werd soos ’n geknakte riet wat ’n mens as kierie probeer gebruik. As jy op hom druk, steek hy deur jou hand. Die koning van Egipte het al sy vriende nog altyd in die steek gelaat.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18