Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:1-14 Die Boodskap (DB)

1. In die derde jaar wat koning Hosea seun van Ela in Israel regeer het, het Hiskia, die seun van Agas, koning in Juda geword.

2. Hiskia was 25 toe hy koning geword het en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Abi, ’n dogter van Sagaria.

3. Die Here was net so tevrede met sy optrede as wat Hy met koning Dawid was.

4. Hiskia het:die heidense heiligdomme verwoes;die klippilare omgegooi en gebreek;die Asjerastompe uitmekaargeslaan;die bronsslang, wat Moses nog gemaak het, vernietig.Dit was nodig om die slang tot niet te maak omdat die Israeliete dit as ’n afgod begin vereer het deur offers daarvoor te bring. Hulle het die bronsslang Negustan genoem.

5. Hiskia het die Here, Israel se God, vertrou. Daar was nie vóór hom of ná hom so ’n koning in Juda soos hy nie.

6. Hy was baie lojaal aan die Here en het getrou al die wette nagekom wat die Here aan Moses gegee het.

7. Die Here het Hiskia ook bygestaan sodat hy suksesvol was in alles wat hy aangepak het. Hy het teen die koning van Assirië in opstand gekom en geweier om aan hom belasting te betaal.

8. Hy het ook teen die Filistyne geveg en hulle verslaan. Hiskia het Gasa met sy hele gebied ingeneem: van die kleinste buitepos tot die grootste ommuurde stad.

9. Gedurende die vierde jaar wat Hiskia regeer het (dit was in Hosea van Israel se sewende jaar), het koning Salmaneser van Assirië Israel aangeval en die hoofstad Samaria van die buitewêreld afgesny.

10. Drie jaar later, in Hiskia se sesde jaar en Hosea se negende jaar, het hulle Samaria ingeneem.

11. Die Assiriese koning het die Israeliete as gevangenes na Assirië weggevoer. Hulle is in Galag, aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië hervestig.

12. Dit het gebeur omdat hulle nie gedoen het wat die Here hulle God van hulle verwag het nie. Hulle het die ooreenkoms wat die Here deur sy dienaar Moses met hulle gesluit het, verbreek. Hulle het hulle eenvoudig nie daaraan gesteur nie.

13. Gedurende die veertiende jaar wat Hiskia regeer het, het koning Sanherib van Assirië Juda binnegeval en al die versterkte stede ingeneem.

14. Hiskia het dadelik ’n boodskap na die Assiriese koning in Lagis gestuur. Hy het vir Sanherib gesê: “Ek was verkeerd. Trek tog u leër terug en watter boete u my ook al oplê, sal ek betaal.” Sanherib het toe byna tien ton silwer en ’n ton goud van hom geëis.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18