Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 14:11-21 Die Boodskap (DB)

11. Amasia wou nie luister nie. Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg en hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak.

12. Juda is deur Israel oorwin en die soldate het huis toe gevlug.

13. Joas het Amasia in Bet-Semes gevang en verder getrek Jerusalem toe. Daar het hy ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek: omtrent 180 meter tussen die Efraimspoort en die Hoekpoort.

14. Toe het hy die stad geplunder: hy het al die goud en silwer wat hy kon kry, gevat, asook die waardevolle goed in die tempel en die stoorkamers van die paleis. Hy het dit, saam met die gyselaars wat hy gevang het, Samaria toe geneem.

15. Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, ook sy dapperheid in sy gevegte teen Amasia, die koning van Juda, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

16. Na sy dood is hy by die konings van Israel in Samaria begrawe. Jerobeam II het hom opgevolg.

17. Amasia het ná Joas se dood nog vyftien jaar lank gelewe.

18. Die res van Amasia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

19. Daar is ’n komplot in Jerusalem teen Amasia gesmee en hy het na Lagis toe gevlug. Die samesweerders het die moordenaars agter hom aangestuur en hom daar in Lagis vermoor.

20. Hulle het sy lyk op perde na Jerusalem toe teruggeneem, waar hy in sy familiegraf in die Stad van Dawid begrawe is.

21. Al die mense van Juda het toe Amasia se sestienjarige seun Asarja koning gemaak in sy pa se plek.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 14