Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 13:11-21 Die Boodskap (DB)

11. Die Here was nie tevrede met Joas se optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam Israel laat doen het.

12. Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, ook sy dapperheid in sy gevegte teen Amasia, die koning van Juda, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

13. Na sy dood is hy by die konings van Israel in Samaria begrawe en Jerobeam II het hom opgevolg.

14. Toe Elisa dodelik siek aan sy laaste siekte gelê het, het koning Joas van Israel na hom toe gekom. Joas het gehuil en vir Elisa gesê: “My vader! My vader! U is vir Israel soos ’n strydwa met sy ruiters!”

15. Elisa het vir hom gesê: “Vat jou pyl en boog.” Die koning het dit gedoen

16. en toe sê Elisa: “Sit nou jou hande op die boog.” Hy het dit ook gedoen. Toe sit Elisa sy hande bo-oor die koning se hande.

17. Daarop sê Elisa: “Maak die venster na die oostekant toe oop!” Die koning het dit gedoen. Toe sê Elisa: “Skiet!” Toe hy geskiet het, sê Elisa: “Dit is die Here se pyl van oorwinning oor Aram, want jy sal die Arameërs volkome by Afek verslaan.

18. Vat nou die ander pyle en slaan hulle teen die grond.”Die koning het die pyle gevat en drie keer teen die grond geslaan.

19. Dit het Elisa kwaad gemaak en hy het vir die koning gesê: “Jy moes ten minste vyf of ses keer teen die grond geslaan het! Dan sou jy die Arameërs behoorlik verslaan het. Nou sal jy hulle net drie keer verslaan.”

20. Daarna is Elisa dood en hulle het hom begrawe.Bendes uit Moab het Israel elke lente binnegeval.

21. Eenkeer was ’n klompie Israeliete besig om ’n man te begrawe toe hulle een van die bendes opmerk. Hulle het die lyk toe sommer in Elisa se graf gegooi. Toe sy liggaam aan Elisa se bene raak, het hy lewendig geword en opgestaan!

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 13