Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 12:12-22 Die Boodskap (DB)

12. Hulle het die geld aan die kontrakteurs uitbetaal wat aangestel is om die tempel te restoureer. Die kontrakteurs het skrynwerkers, bouers,

13. messelaars en klipkappers aangestel om die herstelwerk aan die gebou te doen. Hulle moes hout en bouklippe voorsien om die vervalle dele van die gebou te herstel. Al dié kostes is uit die tempelbydraes betaal.

14. Die geld is glad nie gebruik vir silwerbakke, messe, komme, trompette of enige gereedskap van goud of silwer nie.

15. Dit is slegs gebruik om vir die restourasie van die tempel te betaal.

16. Daar is ook nie van die kontrakteurs verwag om verslag oor die geld te doen nie. Hulle het hulle werk in goeie trou gedoen.

17. Geld wat van skuld- en sondeoffers afkomstig was, is nie vir die herstel van die tempel gebruik nie. Dit was die priesters s’n.

18. In dié tyd het Hasael, die koning van Aram, die dorp Gat aangeval en oorwin. Toe het hy besluit om Jerusalem aan te val.

19. Joas, die koning van Juda, het besluit om Hasael te probeer afkoop. Hy het al die gewyde goed wat sy voorgangers, Josafat, Joram en Ahasia, bymekaargemaak het en al sy eie gewyde gawes én al die goud en silwer in die stoorkamers van die tempel van die Here en die paleis gevat en dit vir Hasael gestuur. Dit het Hasael toe van Jerusalem af laat wegtrek.

20. Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

21. Van sy amptenare het teen hom in opstand gekom en hom by Bet-Millo, langs die pad na Silla toe, doodgemaak.

22. Die moordenaars was Sabad, die seun van Simat, en Josabat, die seun van Somer. Na sy dood is Joas by sy voorouers in die Stad van Dawid begrawe. Hy is deur sy seun Amasia opgevolg.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 12