Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 12:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Joas was net sewe jaar oud toe hy koning geword het.

2. Dit was in die sewende jaar wat Jehu in Israel regeer het. Joas het 40 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja, ’n vrou uit Berseba.

3. Joas se optrede het die Here tevrede gestel, want hy is mos deur die profeet Jojada opgelei.

4. Daar was net een fout: hy het nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om daar diere te gaan offer en om wierook te brand.

5. Joas het vir die priesters gesê om al die geld bymekaar te maak wat die mense na die tempel toe bring, of dit nou belasting was en of hulle dit vrywillig gebring het.

6. Die priesters kon dié geld hou, maar hulle moes dit ook gebruik om die tempel te restoureer waar daar swak plekke was.

7. Toe Joas 23 jaar lank koning was, het die priesters nog nie die swak plekke aan die tempel herstel nie.

8. Joas het Jojada en die ander priesters byeengeroep en gevra: “Waarom het julle nie die tempel herstel nie? Van nou af mag julle nie meer die tempelbydraes vir julleself gebruik nie. Dit moet alles gaan vir die restourasie van die tempel.”

9. Die priesters het ingestem: hulle sou nie meer die bydraes ontvang nie, maar dan sou hulle ook nie meer verantwoordelik wees vir die herstel van die tempel nie.

10. Jojada die priester het ’n gat in die deksel van ’n groot kis gemaak en dit regs van die altaar by die ingang van die tempel van die Here neergesit. Die priesters wat die tempel se ingang bewaak het, het almal se bydraes in die kis gegooi.

11. As hulle sien die kis raak vol, het die staatsekretaris en die hoëpriester die geld wat tempel toe gebring is, getel en in sakkies gesit.

12. Hulle het die geld aan die kontrakteurs uitbetaal wat aangestel is om die tempel te restoureer. Die kontrakteurs het skrynwerkers, bouers,

13. messelaars en klipkappers aangestel om die herstelwerk aan die gebou te doen. Hulle moes hout en bouklippe voorsien om die vervalle dele van die gebou te herstel. Al dié kostes is uit die tempelbydraes betaal.

14. Die geld is glad nie gebruik vir silwerbakke, messe, komme, trompette of enige gereedskap van goud of silwer nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 12