Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 9:9-16 Die Boodskap (DB)

9. (Vroeër het ’n mens in Israel, wanneer jy by God raad wou vra, gesê: “Kom ons gaan na die siener toe,” want vroeër is profete sieners genoem.)

10. “Dis reg so,” sê Saul, “kom ons gaan.” So gaan hulle toe na die dorp toe waar die Godsman was.

11. Terwyl hulle teen die bult opgaan na die dorp toe, kom hulle meisies teë wat gaan water skep. Hulle vra hulle toe: “Is die siener hier?”

12. “Ja,” antwoord die meisies. “Hy is net voor julle. Maar julle moet gou maak; hy het net vandag na ons dorp toe gekom, want die mense offer vandag by die offerplek.

13. Nes julle die dorp ingaan, sal julle hom kry voor hy na die offerplek toe opgaan om saam met die mense die offervleis te eet. Die mense eet nie voor hy kom nie, want hy moet die offer seën. Eers dan eet die gaste. As julle nou dadelik gaan, sal julle hom kry.”

14. Hulle gaan toe na die dorp toe, en net toe hulle op die dorpsplein kom, loop hulle vir Samuel, wat op pad is na die offerplek toe, raak.

15. Die vorige dag al het die Here dit vir Samuel in die oor gefluister:

16. “Môre, omtrent hierdie tyd, sal Ek ’n man na jou stuur uit die stamgebied van Benjamin. Salf hom as ’n leier vir my volk Israel. Hy sal my volk vrymaak van die mag van die Filistyne. Hulle het My gesmeek om hulle te help en Ek weet goed in watter moeilikheid hulle is.”

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 9